Mooi in matriek
2006-08-24
STYLVOL en kleurvol, sag en vloeiend, met lae halse en lae rûe, fyn hoëhakskoene, blosende vel en blink oë. Dis soos die matriekmeisies vanjaar pronk aan die arms van hul sjarmante manlike geselle. Die pa’s en die ma’s kan trots wees op hul seuns en dogters. Die jare van hoe kaler hoe beter, blyk verby te wees. En die mode van swart is morsdood. Maar die eer kom die ouers nie alleen toe nie - vanjaar se matrieks is ’n selfstandige klomp. “Elkeen het ’n eie prentjie in haar kop,” glimlag ’n Paarlse kleremaakster, wat al maande lank aan dié prentjies gestalte gee. Daar is heelwat minder van ontwerpers met bekende name gebruik gemaak - eerder van vriende, en vriende van vriende, wat mode-ontwerp studeer en flink is met die naaimasjien. “My seun het presies geweet wat hy wou aantrek. Hy het alles self uitgesoek, en ek moes net gaan betaal,” vertel ’n ma Vrydagaand by ’n “before party”. Waar die seuns hul ma’s wel ingespan het, was met die blomme. Die klein skouerruikertjie het vandag ’n ontwerpersruiker geword, wat natuurlik ook by die kleurskema moet pas. “Ek is eers na die laaste pas genooi,” vertel ’n ma. “My meisiekind het haar eie smaak, en sy lyk soos ’n prinses.” Om so te lyk, kos natuurlik baie ure op die sonbed, asook professionele haarstilering en grimering. Verlede week, by die eerste matriekdinees van 2006, was die onderwysers glo uit die veld geslaan. By Landbouskool Boland, Bergrivier en Hugenote Hoërskole, was die gees goed - met as temas perderesies, winter en Marokko. En die kos was lekker, maar nie die belangrikste nie. Wie wil nou eet, het die partytjiegangers gevra, as jy op die dansbaan kan baljaar? Die onderwysers, wat die afgelope jare gewoond geraak het aan matrieks wat vroeg die pad vat na die “afterparty”, kon hul oë nie glo toe die span tot half-een nog aan die dans was nie. Daar is ook die “before party”, waar almal wat ’n hand in die grootmaak gehad het, die blinkoog meisies en trotse manne met vonkelwyn groet. Skole en ouers het nou maar die onvermydelike aanvaar - “after-party” sal daar wees. Dus reël hulle vir die partytjiegangers ’n bus, en laat hulle die nag sonder die gevare van die pad omkuier. “Dit was die heel lekkerste dag van my agttien jaar,” het ’n meisie ná die “before party”, die matriekafskeid, en die “after-party” gesug. En sy was nie eens moeg nie!
More
News
|