Boland netbalspan pronk met nasionale trofee
2006-08-24
DIE Boland netbalspan is verlede week as die nuwe SA kampioen gekroon nadat hulle die SA Netbalkampioenskap in Port Elizabeth onoorwonne afgesluit het.
Die span het agt uitspeelwedstryde gespeel, tot twee op een dag.
Die Bolanders het ’n baie goeie vertoning gelewer en was die enigste span om tydens die toernooi nie ’n enkele wedstryd af te staan nie.
Ná afloop van die uitspeelwedstryde was Boland en Vrystaat die twee spanne wat die top twee posisies op die punteleer beklee het.
Die eindstryd tussen dié twee spanne is in sterk wind-toestande gespeel en albei spanne het gesukkel om op dreef te kom.
Boland het egter sy goeie vorm voortgesit en deurentyd bestendige en doelgerigte netbal gespeel. Dit het hulle in staat gestel om hul aanvanklike voorsprong in al vier kwarte te behou en die wedstryd 28-25 te wen.
Wat die prestasie uitsonderlik maak, is dat van die ander provinsies heelwat meer Protea-netbalspelers en SA o.21-spelers in hul spanne gehad het.
Volgens die span se afrigter, Mariana van Zyl, was die eenheid en samespel asook die karakter van die span die basis van die span se sukses.
Boland se Christine Markgraaff, SA Protea-speler, is ook as die beste speler van die toernooi aangewys terwyl Andrea Steyn die titel van beste verdediger verower het.
Benewens Markgraaff wat reeds deel is van die SA Protea-span, is Steyn, Anel Mostert, Zsa-Zsa Temmers en Claudia Basson nou ook in die SA Oefengroep opgeneem.
More
News
|