Paarl klop Albions in noue stryd
2006-08-24
IN ’n klipharde wedstryd op die Boy Louw-veld het Paarl Rugbyklub Saterdag vir Albions 12-10 geklop.
Paarl het reeds rustyd 12-0 voorgeloop nadat Brian Cramer en Mario Jacobs oor die doellyn geduik het en Jacques Hendricks met een doelskop geslaag het.
Paarl het met sy swaarder pak voorspelers vir die grootste gedeelte van die wedstryd gebiedsvoordeel geniet. Verkeerde opsies en swak hantering het hulle egter verhoed om meer punte aan te teken.
Albions het weer in die losgemale goed vertoon danksy Yulin Claasen, Jenovan Cornelissen en Conrey Pieters.
Albions het ook agterlangs goed gelyk, veral toe John Stevens in die plek van die beseerde losskakel Dominic Daniels op die veld gekom het.
Lincoln du Preez (senter) en Ashley Manuel (heelagter) het ook uitgeblink op beide die verdediging en aanval.
Stevens het Albions se eerste punte op die bord gesit, toe hy ’n strafdoel oor die pale geklits het.
Hierna druk die slot, Alfredo Adams, nadat hy die bal in die hande kry net binne Paarl se kwartgebied.
Adams hardloop 15m, verkoop ’n mooi fop-aangee na Manuel en duik oor die lyn vir die vyf punte.
Stevens behaal die doelskop om die 10 punte vol te maak. Hoewel Albions in die laaste minute verwoed aangeval het, het Paarl se verdediging gehou.
Adams was Albions se speler van die wedstryd. Paarl II en III het 19-8 en 26-5 gewen.
Albions speel Saterdag weg teen Kraaifontein. Paarl speel Saterdag weg teen Belhar.
Slegs drie spanne is nog in aanmerking vir die titel van ligakampioen van die WP se Eersteliga.
Die ligavoorloper is Strand United met 58 punte, gevolg deur Paarl (56) en Kraaifontein (53).
Albions lê in die vierde plek met 33 punte en kan nie in die oorblywende drie wedstryde die punteverskil opmaak nie.
Paarl se o.21-span het in ’n wegwedstryd teen UK 17-3 verloor.
* Die manne van Young Peoples Rugbyklub het Saterdag in sy eie agterplaas pakgekry.
Die Paarliete het 11-5 teen Scottsdene vasgeval.
Die tuisspan het eerste punte aangeteken toe die voorspeler Brian Williams gaan druk het.
Die Tiere het egter hierna momentum verloor en kon geen verdere punte aanteken nie.
Teen rustyd het die besoekers Peoples se voorsprong danksy ’n strafdoel na twee punte laat krimp.
’n Tweede strafdoel het Scottsdene die voorsprong gegee.
Dit was egter ’n blaps deur die linkervleuel, Jody Davids, wat die besoekers geleentheid gegee het om die doellyn oor te steek.
Peoples het heelwat geleenthede gehad om drieë te druk, maar selfsugtige spel en slordige hantering het hulle pogings laat skipbreuk ly.
Die tweede span wen 18-15 en die derde span verloor 36-7.
Peoples speel Saterdag op Daljosafat teen Noordelikes en die Paarliete sal hul ondersteuners tevrede huis toe wil stuur.
More
News
|