Karetekas oes medaljes
2006-08-24
LEDE van die Hayashi-Ha Karateklub in die Paarl het puik vertoon tydens die SA Junior en Kadet Alle Style Karatekampioenskap wat onlangs gehou is.
Dié Boland karateka was deel van die Wes-Kaapse span wat saam met nege ander streke aan die toernooi deelgeneem het.
Die Wes-Kaap, wat die meeste medaljes van al die provinsies verower het, is deur die Paarl se Emile Clayton en Shanica Truskey gelei.
Clayton is vir die vierde keer as die SA Junior karatekampioen gekroon. Hy het die prestasie in 2002, 2004, en 2005 behaal en vanjaar goud in beide die unison-kata (span-vorms) en kumite (gevegte) verower asook brons in die individuele kata.
Ander lede wat medaljes verower het, is Truskey (silwer in unison-kata, brons in kumite), Marcello Ross (goud in unison-kata), Danica Adams (silwer in unison-kata), Sheila Panyeka (silwer in unison-kata, brons in kumite) en Dimitri Jacobs (goud in unison-kata, goud in individuele kata).
Marcello, Dimitri en Emile is aldrie in die voorlopige SA oefengroep opgeneem wat volgende jaar aan die Wêreld Junior en Kadettoernooi in Suid-Afrika gaan deelneem.
Nog ’n Paarliet, Byron Parrot, wat aan ’n klub in Pniel verbonde is, het by dieselfde kompetisie ’n goud in kumite ingepalm.
More
News
|