Pniel lyk goed geplaas vir bevordering
2006-08-24
DIE eerste span van Pniel Villagers Rugbyklub het Saterdag voor ’n geesdriftige tuisskare daarin geslaag om Kuilsrivier met die kous oor die kop huis toe te stuur deur hulle oortuigend 26-19 te klop.
Die tuisspan het met dié sege wraak geneem vir die nederlaag van die eerste ronde toe die Kuile die enigste span was wat hulle kon klop.
Villagers het van die afskop tot die aanval oorgegaan en die besoekers onder geweldige druk geplaas.
Dié spel is dan ook beloon met drie sprankeldrieë, waarvan twee verdoel is en wat die rustydtelling op 19-0 te staan gebring het.
Soos in baie ander wedstryde dié seisoen het die Pniel-spelers weer eens laat slap lê nadat hulle ’n gerieflike voorsprong opgebou het.
Die tuisspan het Kuilsrivier toegelaat om in die tweede helfte terug te kom in die wedstryd toe hulle twee verdoelde drieë aangeteken het.
Skielik was die telling 19-14 wat die tuisspan letterlik wakker laat skrik het.
Villagers het toe weer verbete begin aanval wat uiteindelik op ’n vierde drie uitgeloop het en Pniel van ’n bonuspunt verseker het.
Uitblinkers vir die wenspan was Lee Blaine (heelagter) wat ook as speler van die wedstryd aangewys is en Claude Vos (losvoorspeler).
Jonathan Daniels (senter) was ook ’n doring in die vlees van die besoekers en is met twee drieë beloon vir sy kragspel.
Hy moes egter die veld met ’n dyspierbesering verlaat wat die ritme in die agterlyn ook hierna versteur het.
Lee Blaine en Eugene Francis het die orige drieë gedruk, terwyl Stefanus Cedras drie doelskoppe behaal het.
Die sege oor Kuilsrivier beteken dat Pniel Villagers (in die tweede plek met 60 punte) nou 13 ligapunte meer het as Kuilsrivier wat met 47 punte in die derde posisie lê.
Die span van Durbanville-Bellville is die huidige voorloper in die Superliga B, met 65 punte.
Met slegs drie wedstryde oor, staan Pniel ’n baie goeie kans om weer na die Superliga A bevorder te word.
Die span wat bo-aan die Superliga B-punteleer eindig, word outomaties bevorder, terwyl die naasbeste span moet uitspeel teen die span wat tweedelaaste op die Superliga A-punteleer lê.
More
News
|