Twee nuwe gesigte vir Kavaliers
2006-08-24
TWEE spelers wat nog nie vanjaar die Fidentia Boland rugbytrui oor die kop getrek het nie, is ingesluit in die span wat Vrydag op Wellington teen die Luiperds in ’n Absa Curriebeker Afdeling Een wedstryd op die veld draf.
Dewey Swartbooi (vleuel), ’n boorling van die Sutherland-streek, en Dawid de Villiers (slot), ’n susterskind van die voormalige Springbok-slot en kaptein Avril Malan, is gekies vir die stryd teen die Luiperds.
Swartbooi, ’n voormalige Goue Leeu, is onlangs deur die Boland gekontrakteer terwyl De Villiers vir die afgelope jaar van ’n skoueroperasie herstel het.
Die wedstryd is vir beide die Kavaliers en Luiperds van kardinale belang, aangesien albei nog onoorwonne in die kompetisie is.
Die spanne het met hul eerste Absa-beker kragmeting op Olénpark 22-22 gelykop gespeel.
Die Luiperds is tans bo-aan die punteleer met 27 punte nadat hulle Saterdag die Arende 40-33 geklop het.
Kavaliers se 12-5 sege oor die Olifante in ’n koue, nat wedstryd in Port Elizabeth het beteken dat hulle geen bonuspunt kon insamel nie en tans in die tweede posisie lê met 26 punte.
Die skopvoet van Jacques Schutte het al die Kavaliers se punte op die bord gesit.
Die wenner van môre se wedstryd op Boland Stadion sal dus bepaal wie vanjaar ’n tuis-eindstryd gaan huisves.
Vir afrigter Hawies Fourie en sy makkers is dit “Operasie Regruk” alvorens hulle die Luiperds aandurf.
Volgens gerugte was verlede naweek se vertoning geensins die standaard waaraan die span se ondersteuners gewoond is nie.
Môre is dan ook 'n mylpaal vir Kobus Meintjies en Charl Blom wat albei hul 50ste wedstryd vir die Boland Kavaliers sal speel.
Die afgelope week is hard met die spelers op die oefenveld gepraat en daar is groot optimisme in die Boland-kamp dat die groep Vrydag die wa deur die drif sal trek wanneer die wedstryd om 16:30 afskop.
Fidentia Boland: Justin Peach; Rayno Benjamin, Piet van Zyl, Kobus Meintjes, Dewey Swartbooi; Jacques Schutte, Charl Blom; Francois Prinsloo, Henley du Plessis, Callie Wannenburg, Marco Wentzel, Dawid de Villiers, Andries Human, Conrad Burke (k), Fabian Brandt.
More
News
|