Jong boer vermoor by Bergrivier
2006-08-31
’n GEWILDE, jong boer van Wellington is die naweek vermoor toe hy en ’n vrou, met wie hy langs die Bergrivier in die Paarl gekuier het, aangeval is.
Reinacht Crous (24) het Saterdagaand ’n verjaarsdagpartytjie in die Paarl bygewoon.
Nà die party het hy ’n vrou in Bredastraat ontmoet en haar saam met hom genooi in sy bakkie.
Die vrou het glo vroeër die aand ’n argument met drie mans gehad, wat hulle ongesiens in hul wit Opel tot agter die moskee gevolg het.
Die mans het hulle genader en glo op die vrou begin vloek en haar aangerand.
Toe Crous tussenbeide tree om haar teen die aanvallers te beskerm, is hy met ’n mes in die bors gesteek. Die mans het hierna gevlug.
Die vrou het ’n verbygaande polisievoertuig gestop, maar toe polisiemanne hom te hulp snel, was hy reeds dood.
Crous, ’n boorling van Swellendam, woon reeds meer as vyf jaar in Wellington, waar hy Landbou aan die Universiteit van Tegnologie (CPUT) studeer het.
Die afgelope drie maande het hy as bestuurder op die plaas Fresno aan die Hermon-pad gewerk.
Jan Wiese, by wie se partytjie hy die noodlottige aand was, het vertel wat ’n goeie vriend hy was.
“Hy het in almal wat hom geken het, se harte gekruip. Hy was werklikwaar ’n sagmoedige reus wat baie hard gewerk het,” het ’n bewoë Wiese gesê.
Crous word oorleef deur sy ouers, Drieka en Barry, asook ’n jonger broer en suster, Barry en Michelle. Die gedenkdiens is môre in die NG Moederkerk op Swellendam.
Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie volg leidrade op.
Enigiemand met inligting kan Paarl speur-insp Gerrit Boois skakel by 807-4048.
* A young Wellington farm manager has been murdered after picking up a woman in central Paarl'.
More
News
|