Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Double V veg verbete

Double V veg verbete
 
2006-08-31


IN ’n terugvegpoging soos min, het die manne van Double V United sokkerklub hulself ’n buitekans gegee om nog moontlik vanjaar in die nasionale Castle Liga te speel.

Dié Paarl-span het sy afgelope sewe wedstryde almal gewen en só van 13de na agste op die punteleer van sy uitklopgroep gespring.

’n Groep van 36 spanne, opgedeel in twee groepe van 18 spanne elk, het die afgelope jaar in die Castle uitspeelwedstryde gespeel.

Met slegs die voorste 15 spanne wat na die Castle Liga deurdring en die kompetisie wat sy einde nader, is die druk kwaai.

Double V het Saterdag verras toe hulle die ligavoorlopers in die Rooi groep, Mighty Five Stars van Kayamandi, 2-0 geklop het.

Dié harde wedstryd is gekenmerk deur kwaliteit spel.

Die Paarliete het hul teenstanders geen ruimte gegee om in die middeveld te beweeg nie en so hul kanse om aanvalle te loods, in die kiem gesmoor.

Hier het Double V se kaptein, Yulin Benans en Paul Israel, uitgeblink.
Hensley Williams het die Paarliete laat voorloop toe hy met ’n kanonskoot van buite die groot doelvierkant die agterkant van die net gevind het.

Verskeie aanvalle van Mighty Five Stars is goed afgeweer, danksy goeie verdediging deur Peter Cafica en Wayne Adriaanse.

In die tweede helfte het Double V ewe genadeloos verdedig.

Die doelwagter, Bevin Christiaan, het sy handskoene voor verskeie doelskietpogings ingedruk en die toeskouers in vervoering gehad met sy aanskoulike keerwerk.

Waqeem Abrahams het die wedstryd vir Double V beklink toe hy laat in die tweede helfte ’n doel aanteken.

Maandagaand het Double V in ’n maak-of-breek wegwedstryd teen die span van SAPS Breedevallei in Zweletemba te staan gekom.

Die Paarliete moes dié wedstryd wen om enigsins nog ’n kans te staan om vir die Castle Liga te kwalifiseer.

Dit het aanvanklik gelyk of die harde stryd teen Mighty Five Stars sy tol geëis het, toe Breedevallei ná die eerste tien minute 2-0 voorgeloop het.

Die wedstryd is in gietende reën en sterk windomstandighede gespeel wat spel bemoeilik het.

’n Goeie doel deur Elrich van der Westhuizen het die rustydtelling 2-1 gemaak.

Die besoekers het die tweede helfte vurig begin en is binne die eerste minuut beloon toe Abrahams se skop die agterkant van die net vind.

Twee verdere doele deur Van der Westhuizen het hom van ’n driekuns verseker en ook sy span tot ’n 4-2 oorwinning gehelp.
Die finale punteleer sal volgende week bekend wees.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za