Hillcrest lyk weer goed
2006-08-31
DIE huidige voorlopers in die Boland se Presidentsliga Weskus, Hillcrest United Rugbyklub, het Saterdag vir Mamre op Pelikaanpark 17-8 laat les opsê.
Die wedstryd is in ’n baie goeie gees gespeel en die skare is op harde, aanvallende rugby getrakteer wat hulle gedurig op hul tone gehad het.
Die besoekers was oorgehaal vir die wedstryd, met hul ondersteuners wat met drie busse en tien motors opgedaag het om hul span heelhartig te ondersteun.
Die lae telling is beduidend van die harde stryd wat daar tussen die vier kalklyne gewoed het.
Hillcrest se regtervleuel, Etienne McCarthy, het die tuisspan se enigste drie van die wedstryd gedruk.
Losskakel Conroy Gertse het sy terugkeer tot die span gevier deur met vier strafdoele te slaag en gewys dat hy weer eersdaags die wedstrydwenner van ouds kan wees.
Die voorspelers onder leiding van ‘Captain Courageous’, John Abrahams, het skitterend vertoon en as ’n hegte eenheid gespeel.
Op heelagter het Andrew Shand weer sy vorm herwin en ’n bestendige vertoning gelewer en sy bynaam as die ‘Rots van Gibraltar’ gestand gedoen.
Saterdag speel Hillcrest United sy laaste ligawedstryd tuis op Pelikaanpark teen die agterosse van die liga, Villagers Wittewater.
Die Wellington-span sal sy posisie op die punteleer en deelname aan die Super Ses-kompetisie van die Presidentsliga wil verseker.
More
News
|