Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kavaliers slag Luiperds

Kavaliers slag Luiperds
 
2006-08-31


IN ’n ramkat-vertoning Vrydagmiddag het die Fidentia Boland Kavaliers die Luiperds 27-24 geklop en só sy onoorwonne status in die Eerste Liga-kompetisie van die Absa Curriebeker behou.

Die sege het die Bolanders ook tot bo-aan aan die punteleer laat spring, met 30 ligapunte.

Die twee bonuspunte wat die Luiperds uit die wedstryd verdien het, het egter verseker dat hulle met 29 punte nog hard in die voorlopers se nekke blaas.

Die skopstewel van die losskakel, Jacques Schutte, het weer eens die verskil gemaak en die Kavaliers van dié naelskraapse oorwinning verseker.

Schutte het met vyf strafskoppe en twee doelskoppe geslaag en so 17 punte bygedra.

Die wedstryd was baie fisies en albei spanne het maar harde bene gekou om punte aan te teken. Daarvan getuig die skamele 6-0 voorsprong wat die tuisspan teen rustyd geniet het.

Die Kavaliers het deurgaans gebiedsvoordeel en balbesit geniet, maar die Luiperds het met hand en tand verdedig en die Swart Golf telkens kort voor die doellyn gestuit.

Die Wynboere verdien dan ook ’n pluimpie vir die geduld wat hulle aan die dag gelê het, om met konstruktiewe fase-spel aanval na aanval te loods.

Die verdediginglinies van die twee spanne het egter in die tweede helfte nie so suksesvol gehou nie.

Dit was die Luiperds se haker, Hans van Dyk, wat gaan druk het, nadat hy Conrad Burke (haker en Boland-kaptein) se mistasting van ’n aangee af, onderskep het en 20m genael het vir sy drie onder die pale.

Corné Meyer (losskakel) se doelskop het die besoekers vir die eerste keer in die wedstryd laat voorloop.

’n Aanskoulike breekslag deur skrumskakel Charl Blom het die Luiperds heeltemal onkant betrap.

Hy is egter kort voor die doellyn platgetrek, maar kon vir Francois Prinsloo (agsteman) uitgee wat oor die doellyn val.

Schutte se skopvoet en ’n verdere drie deur Kobus Meintjies - wat só sy 50ste wedstryd vir die Kavaliers op die beste moontlike wyse gevier het - het die Boland van ’n sege verseker.

Die Luiperds het egter tot in die laaste bly baklei en is beloon met drieë deur Naude Beukes (slot), Theo van Wyk (vleuel) asook ’n drie deur Colin Lloyd in die laaste sekondes, na briljante hanteerwerk.

Die Fidentia Boland Kavaliers speel môreaand teen die Grens Bulldogs in Oos-Londen.

Met slegs sewe punte agter hul naam en ’n kortkop voor die Griffons wat laaste op die punteleer lê, behoort die Kavaliers met vyf punte uit dié stryd te tree.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za