Gered deur gebed
2006-08-31
ONS het gebid, en baklei teen die stroom, onthou sewe jong leerders van Laerskool Hugo Rust nadat hulle wonderbaarlik aan ’n waterdood ontkom het.
Die graad sewes was verlede week saam met drie onderwysers op ’n opvoedkundige toer na die Mosselbaai museum, die oesterplaas by Knysna en besienswaardighede op Oudtshoorn.
Woensdag laatmiddag het die kinders die 100m van hul basis by Heroldsbaai, buite George, see toe gestap.
“Van die kinders het kniediep in die water gestaan, en ander heupdiep,” het skoolhoof Niel le Roux vertel.
“’n Sleurstroom het skielik ses seuns en ’n meisie meegevoer. Gelukkig nie see in nie, maar dwars, met die kus langs.”
“Ons het baklei teen die stroom, en gebid,” praat almal vandag uit een mond.
“Ek het gedink ek gaan nou dood, tot ek by die rotse gekom het,” sê Kobus Basson.
“Na die tyd waardeer jy jou lewe,” sê Rudi du Plessis.
Vier van die kinders het daarin geslaag om op rotse te klouter, terwyl twee met die branders uitgespoel is.
Onderwyser Johan van der Merwe, het die sewende kind aan die hand uit die water getrek.
Lede van die Nasionale Seereddingsinstituut was gou op die toneel en het gehelp om die wonde te verpleeg en traumaberading te gee.
“Die mense van die NRSI was wonderlik. Hulle het selfs later die aand weer kom kyk hoe dit met die kinders gaan wat baie water ingekry het,” het Le Roux gesê.
“Die wonderlikste was hoe hierdie voorval die outjies saamgebind het.” Die volgende dag was die leerders op die been, en het hulle aan ’n sportdag op Riversdal deelgeneem, en nog verder getoer tot Saterdag.
Gister is daar by die Wellington-Noord NG Kerk ’n dankseggingsdiens gehou ná die kinders se noue ontkoming.
* Seven primary school learners from Wellington survived a freak undertow at sea
More
News
|