Stakings tref Paarlse supermark
2006-09-07
DIE landwye staking deur werkers van Shoprite Checkers se tentakels het verlede week tot in die Paarl gestrek.
Ondanks die hoë sekuriteit wat weens die stakings aangebring is, het ’n oproering verlede Woensdagmiddag by Shoprite in die middedorp ontstaan.
Sowat vyftien stakers het toegang tot die winkel gekry waarna hulle skielik produkte van die rakke afgegooi het, asook winkelmandjies rondgegooi het.
Winkeliers in die Shoprite-sentrum het summier hul deure gesluit en gevrees dat die gebeure tot vandalisme van hul winkels sou lei.
“Ons het net ’n fluitjie hoor blaas vanuit Shoprite en toe ’n geskree,” het Elsabé Galant van die Spice Shop gesê.
“Mense het in alle rigtings uit Shoprite begin hardloop en toe sien ons die groep mans wat agterna gehardloop het. Hulle het mandjies en pamflette rondgegooi.
“Dit het so vinnig gebeur en teen die tyd dat die polisie opgedaag het, het die mans spoorloos verdwyn.”
Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die skade was gering in vergelyking met aanvalle op winkels in Stellenbosch, Somerset-Wes en Goodwood, waar derduisende rande se skade by dié kleinhandelgroep se winkels aangerig is.
Die staking spruit uit die onwilligheid van die vakbond Saccawu en die bestuur van Shoprite Checkers om tot ’n ooreenkoms te kom oor werkers se loonverhoging.
Shoprite bied R265 aan, terwyl Saccawu op ’n R300 verhoging aandring.
* A local Shoprite store was looted by strikers.
More
News
|