Drama toe brand uitbreek
2006-09-07
“SOMTYDS is dit blote nalatigheid en somtyds is dit ’n ongeluk of elektriese kortsluiting, maar wanneer jou huis brand, dan hardloop almal soos afkop-hoenders al skreeuende rond.
“Dan dink mens nie meer so nugter nie, want jy is besig om die dak oor jou kop te verloor,” vertel Johannes (Basie) Collins (77).
Vrydagaand omstreeks 11:00, was dit die geval by sy huis in Regentstraat 23 in Paarl-Oos.
Die buitekamers waar sy seun, Sammy, en sy vrou Jolene woon, het omtrent heeltemal uitgebrand. Hulle het brandskade van bykans R25 000 gely.
Hul woonplek is deel van die hoofgebou en was die brandweer en polisie nie so gou op die toneel om die brand te blus nie, was die skade soveel groter.
“As die huismense vroeër gaan slaap het soos altyd, het alles afgebrand,” vertel skoondogter Michelle.
“Ons het vroeër die aand in die agterplaas ’n familiebraai gehou, maar het doodseker gemaak dat die vuur heeltemal geblus was voordat almal gaan slaap het,” sê sy.
Sy vertel dat haar seun Jenobin haar kom vertel het dat hy ruik iets brand. Sy het buitentoe gegaan om ’n stoel wat nog daar gestaan het te gaan haal en toe sien sy dat die buitegebou aan die brand was.
Sy het alarm gemaak, maar die vlamme het reeds aan die dak gelek. Jolene kon net met haar klere buite toe vlug en al hulle besittings het in die slag gebly.
Ma Hilda het intussen die brandweer gebel en die polisie was ook gou op die toneel.
Vermoedelik is die brand veroorsaak deur ’n kers wat omgeval het.
Bure en ander omstanders het kom help om die vuur te blus en daarvoor is die Collins-gesin baie dankbaar.
Basie sê dat hy nog so ’n bietjie bewe na die hele petalje en dat die skrik nog nie heeltemal uit sy lyf uit is nie, maar dat hy bly is dat niemand seergekry het nie.
* A local family is thankful no-one was injured when part of their house burnt down.
More
News
|