Tong in die kies
2006-09-07
GROOT was my verbasing toe ek lees dat die Paarl ‘n kunstefees gaan aanbied, nl die Cultivaria.
Wanneer ‘n mens so iets aanbied dan moet jy sorg dat die infrastruktuur reg is.
Stel jou die volgende scenario voor: VOORBLADNUUS: Chris Chameleon vermis, daag nooit by vertoning op nie!
Na ‘n groot soektog sê die een speurder vir die ander, “Het julle al in Hoofstraat gatnommer 968 gaan kyk?”
Chris Chameleon se onderhoud met die Paarl Post sou dalk so geklink het: “Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees, gelukkig het ek ‘n Nissan Hardbody bestuur, en nie ‘n Mini Cooper nie. Was dit nie vir die Hardbody nie, het julle my nooit raakgesien nie.
Ek was bevoorreg om hierdie afgelope week diens te doen by ‘n sekere skool se skolierpatrolliediens. Die verkeer het elke oggend soos die verkeer gelyk wanneer ‘n paar skoolseuns laataand onder die invloed van iets sterker probeer om in die middel van die pad te ry - al swaaiende.
Hierdie verkeer was egter heel onskuldig met hul swaai-aksie aangesien hulle so moet ry om die gate te uitoorlê in die pad. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat die Munisipaliteit besig is om ‘n moltreinstelsel te ontwikkel onderdeur die hoofstraat.
Was dit nie vir ‘n vrou met 'n bakkie wat per ongeluk die tonnel ontdek het deur in ‘n gat vas te val in die teer nie, sou die publiek dit eers gehoor het wanneer die eerste moltrein in ontvangs geneem word.
Die vrou se versoek om die gat na haar te laat vernoem is afgekeur - ek wonder hoekom?
Annie Eetkamer
More
News
|