Newtons verras
2006-09-07
IN sy laaste ligawedstryd van die jaar het Newtons sy beste spel vir laaste gehou en verras deur die sterk span van Saldanhabaai Saterdag op Newtonpark te klop.
Die eindtelling van 20-14 dui op ’n kwaai stryd wat hoofsaaklik onder die voorspelers gewoed het.
Oorwinnings was hierdie jaar vir Newtons maar seldsaam en met die sege kan hul ondersteuners moed skep vir die volgende seisoen.
Keurders het in die wedstryd die jong spelers kans gegee om hulself in groot geselskap te bewys en hulle het nie teleurgestel nie.
Die besielende leiding van hul kaptein en flank, Clayton Hendricks, het die Newtonners die botoon laat voer. Rustyd het die besoekers nog met 7-6 voorgeloop.
Met nog net vyf minute speeltyd oor het hulle die telling vergroot na 14-6 na ’n goeie drie deur hul agterspelers.
Speler van die wedstryd, losskakel Christo Fransman, het egter met ’n vlymskerp breekslag die verloop van die wedstryd verander deur onder die pale te druk en self te verdoel (14-13).
Onmiddellik na die afskop hardloop een van die jong turke, Elrich Armenville (flank) byna los deur, maar word hy vyf meter van die doellyn vasgetrek.
’n Tweede-fase bal stel senter Reggy Manuel in besit en hy bars oor vir die wenpunte. Christo Fransman (losskakel) vervyf om die eindtelling op 20-14 te staan te bring.
Verdere uitblinkers vir Newtons was Sandile Sijaji (stut), Randal Fourie (vleuel) en Roderick Loverlott (haker).
More
News
|