Tuis-finaal wink vir Kavaliers
2006-09-07
DIE rugbykeurders van die Fidentia Boland Kavaliers waag geen kanse met die samestelling van hul span vir môre se wedstryd teen die SWD Arende nie.
Hoewel die senter, Piet van Zyl, nie die finale vyftiental gehaal het nie, is hy ’n hane-treetjie van die speelveld af indien die “noodlot” sou roep.
Claude Arendse en Kobus Meintjes verdedig van meet af die middelveld die week. Van Zyl hou die plaasvervangerbank warm.
Die Springbok-slot, Marco Wentzel, is terug nadat hy herstel het van ’n liesbesering wat hom verlede naweek op die krukkelys gehou het in die wedstryd teen die Bulldogs. Hy en Dawid de Villiers sak weer as slotpaar.
Rayno Benjamin (agt drieë) se driekuns drieë verlede week in Oos-Londen plaas hom tussen die voorste driedrukkers in die kompetisie. Hy deel tans die tweede plek met Alistair Kettledas van die Arende.
Albei die vleuels is ses drieë agter die huidige voorloper Colin Lloyd (Luiperds, 14 drieë).
Jonghi Nokwe (vleuel) het verlede naweek die laaste 20 minute van die wedstryd gespeel. Dit was goed genoeg om hom vandeesweek in die uitsoek-vyftiental te bevind.
Vir die tuisspan is môre se wedstryd van uiterste belang. ’n Oortuigende bonuspunt-sege sal beteken dat Fidentia Boland in sy laaste wedstryd teen die Griffons slegs ’n oorwinning moet behaal om bo-aan die punteleer te eindig.
Dit hou baie voordele vir die Boland in. ’n Tuiswedstryd in die halfeindronde asook die eindronde is sy voorland indien hy deurdring. In ’n voorwedstryd kom die Fidentia Amateur-span teen die oorblywende gekontrakteerde spelers - ’n Fidentia Boland XV - te staan.
Die wedstryd lok groot belangstelling aangesien baie van die spelers die keurders se oog wil vang.
Die wedstryd begin om 16:30 op Boland Stadion.
Boland-span: Justin Peach; Rayno Benjamin, Kobus Meintjes, Claude Arendse, Jonghi Nokwe; Jacques Schutte, Charl Blom; Francois Prinsloo, Henley du Plessis, Callie Wannenburg, Marco Wentzel, Dawid de Villiers, Andries Human, Conrad Burke (k), Fabian Brandt. PLAASVERVANGERS: Pieter Wium, Ruaan du Preez, Coenie Basson, Chris Potgieter, Neil Papier, Dewey Swartbooi, Piet van Zyl. Fidentia Boland-XV: Ossie Damon; Renfred Dazel, Hennie Daniller, Nel Fourie, Louw Schabort; Solly Goosen, Tewis de Bruyn; Roland Reid, Sebastian Hilpert, Angelo Brinkhuys, Willie Bower, Duimpie Theron, Tommie Dixon, Louis Loubscher, Janro van Niekerk. PLAASVERVANGERS: Pieter Krynauw, Pieter du Toit, Piet Myburgh, Frankie Horne, Jaco du Toit, Abrie Barry, Riaan Nel, Alvin Hugo, Clive Samuels. Fidentia Amateur-span: Wimpie Roodtman (Ceres); Ashwell Peters (Villagers), Alrich Muller (Roses), Jonathan van Schalkwyk (Roses), Deon Williams (Roses); Nicus Bergh (Wellington), Ricardo Jones (Villagers); Shaun Heyliger (Rawsonville), Goodboy Moses (Roses), Ernie Fredericks (Wesbank), De Wet Neethling (Wellington), Johan Botha (Rawsonville), Bulla Kotze (Rawsonville), JG Giliomee (Rawsonville), Anton Botha (Saldanha). PLAASVERVANGERS: Lionel Geldenhuys (Roses), Andre du Toit (Villagers), Hano Kitchoff (Rawsonville), JP Jordaan (Ceres), Louis Peens (Ceres), Earl Manie (Roses), John Lee Nortje (Roses).
More
News
|