Seun speel terwyl polisie soek
2006-09-14
“EK het net ’n bietjie by my tjommie gaan speel.”
So sê Breyton McHalm (9) met ’n stoute glimlaggie op sy gesig nadat ’n wye soektog Vrydag en Saterdag na hom geloods is.
Die drama het Vrydagmiddag begin toe Breyton se ma, Zelda, tuisgekom het op die plaas Irene in Noorder-Paarl.
“Ek het eers nie opgelet dat Breyton se skooltas nie hier is nie, en begin aandete voorberei.
“Maar toe hy steeds nie teen skemer by die huis is nie, het ek begin bekommerd raak.
“Ek het die bure uitgevra maar niemand kon sê of hulle die middag my seun gesien het nie. Sy skoolmaatjies het elkeen ’n ander storie te vertel gehad.”
So het ’n vreesbevange Zelda begin rondhardloop op soek na haar seun.
“Toe my man Dawid by die huis kom, het hy na van die buurplase gegaan om te vra of hulle vir Breyton gesien het. Dit was reeds donker en ons het toe besluit om vir die polisie te bel.”
Dawid en lede van die polisie het die omgewing tot bykans middernag gefynkam.
Die volgende oggend het die soektog voortgegaan, en die situasie is vererger toe een kind vir Zelda vertel dat hy vir Breyton in ’n rooi motor sien klim het ná skool.
“Ek het my doodgeskrik, want ons ken niemand met so ’n motor nie. Ek het die ergste begin vrees.”
Min wetend dat hy sy ouers en die polisie op hol het, het Breyton by ’n maatjie in Suider-Paarl gekuier. Hy is later die middag omstreeks 16:00 by die huis afgelaai.
“Ek was so verlig om vir Breyton te sien dat ek vir hom omhels het en vir die Here vir sy veilige terugkoms bedank het.”
Van weer “wegloop” wil Breyton niks weet nie.
“Ek wou nie my mamma en pappa so ontstel nie. Ek het net gaan speel.”
* Police searched high and low for a nine-year-old who had gone to visit friends for the night.
More
News
|