Paaie eis jeugdiges
2006-09-14
’n UITSTAPPIE na ’n kerkbyeenkoms het Sondagaand tragies geëindig vir ’n groep lidmate met ’n gru-ongeluk op die Wemmershoekpad.
Die voorval het Sondagaand plaasgevind toe ’n groep kerkgangers van die Church on Fire in Groenheuwel, Paarl, ’n diens bygewoon het by La Motte-bosbou op Franschhoek.
Ná die diens is een groep lidmate onder die leiding van pastoor Samuel Groenewald terug na die Paarl in ’n kombi, terwyl ’n groep jeugdiges agtergebly het om te help om musiekinstrumente weg te pak.
Later die aand het pastoor Groenewald die doodstyding ontvang nadat die Toyota Corolla waarin die groep jongmense gereis het, onder die N1-brug by Boschenmeer gerol het.
Die sewentienjarige Natasha Manuel is op slag dood, terwyl vyf jong mense ernstig beseer is.
Pastoor Groenewald se seun, Romano (22), wat die kar bestuur het, en Michelle Wilschut (15) is met ernstige beserings na Tygerberg Hospitaal geneem, waar Michelle Maandagaand beswyk het.
Romano verkeer tans in ’n ernstige, maar stabiele toestand. Simoné Groenewald (16), Emmerencia Groenewald (17), sowel as Everencia Johnson (16) is na die Paarl Hospitaal geneem.
Pastoor Groenewald het gesê dat al die jeugdiges aanvaar het dat hulle ’n roeping as profete in die kerk gehad het en wou dié roeping volg.
“Romano is ’n baie versigtige bestuurder en die kinders met wie ek al gepraat het wat in die voertuig was, het almal gesê dat hy nie vinnig gery het nie,” het Pastoor Groenewald gesê.
“Hulle vertel egter dat die motor skielik sonder enige rede begin ruk het voordat dit onder die brug geswenk het.
“Al is ons nou almal erg geruk deur die ongeluk en die verlies van twee onskuldige lewens, sal ons egter weer opstaan en nie toelaat dat die stem van die Here stilgemaak word nie.”
Natasha se ma Jane en sussie Veronique (11) het die ongeluk ontsnap, deurdat hulle besluit het om in die kombi terug te keer na die Paarl.
’n Ontroosbare Jane het gesê dat Natasha haar sonskynkind was wat sy nooit sal vergeet nie. Natasha word ook oorleef deur haar pa, Godfrey Manuel.
Michelle se begrafnis is Saterdagoggend om 09:00 vanaf Simfonielaan 237 en Michelle vanaf Begouniastraat 1. Hulle sal om 11:00 saam vanuit die Rehoboth kerk in Simfonielaan, Paarl, ter ruste gelê word.
* Saterdagmiddag is ’n jongman dood toe die motorfiets waarop hy in Weltevrede, Wellington, gery het, teen ’n muur gebots het.
Monray van der Merwe (17), van Newton, het sy pa se motorfiets bestuur toe hy volgens ooggetuies beheer verloor het en in die muur van ’n huis in Springbokstraat vasgejaag het.
Monray het vir sy pa gewerk as groente-smous.
Hy laat sy ouers Morris en Evelyn na, asook sy broer Marlin en susters Mandy en Amy.
Sy begrafnis vind Saterdag om 10:00 plaas by Herculesstraat 13 en om 11:00 in die VGK Newton.
* Drie mense het Sondag ’n noue ontkoming gehad in nog ’n ongeluk, dié keer op die R45 naby Wellington.
Die rooi Toyota Camry waarin drie mense gery het, het by ’n wal afgery en bo-op ’n sekuriteitsheining te lande gekom.
Daniel en Dorothy Williams, sowel as Noma Solomon, is met ligte beserings na die Paarl MediClinic geneem.
* Two youngstersst died in a car crash after a church service in Franschhoek, while a teenager died in a motorcycle crash.
More
News
|