Jan Fiskaal se mense moeg gewag
2005-04-28
Susan Botha
DIE inwoners van Jan Fiskaalstraat in Amstelhof het verlede Donderdag die reg in eie hande geneem en die straat op vier plekke opgekap vir kits-spoedwalle.
“Ons is moeg en sat daarvan dat hier niks gedoen word aan die mense wat so jaag in ons straat,” het verontwaardigde inwoners gesê.
Twee kinders is die afgelope twee jaar in dié straat doodgery en nog een in die naburige Piet-my-vroustraat. ’n Vierde kind is beseer.
Toe ’n vyfde kind verlede week amper voor ’n motor beland, was die vet in die vuur.
Omstanders vertel dat dit 11:00 die oggend gebeur het. Kort daarna het mense met pikke begin om die pad op te kap.
Laatmiddag het verkeersamptenare daar opgedaag en die mense gevra om te kalmeer.
Hulle het gesê spoedwalle word op prioriteit gebou en moontlik het niemand uit dié straat nog aansoek gedoen nie.
“Hulle kon nie, hulle is almal doodgery!” het een inwoner uit die bondel laat hoor.
Beskuldigings is heen en weer geslinger en roekelose bestuurders se name genoem.
Inwoners is gevra om registrasienommers van oortreders neer te skryf en spesifieke insidente aan te meld.
’n Vergadering met raadslid Charmaine Manuel is vir Vrydagoggend gereël.
Hier is besluit dat die saak Dinsdag voor die Burgemeesterskomitee moet dien, waar besluit is dat die pad herstel sal word en dat so vinnig moontlik spoedwalle aangebring moet word.
More
News
|