Franschhoek wen weer
2006-09-14
NADAT Franschhoek verlede week met Albions afgereken het, het hulle Saterdag ook vir Belhar met 25-3 voos gespeel.
Franschhoek se voorspelers het die grondslag gelê en van die afskop af die pap dik aangemaak.
So druk die haker, Cedric Cloete, ook sy drie nadat die voorspelers met volgehoue druk en lopies die krake in Belhar se verdediging blootgestel het.
Die oorheersing van die voorspelers het Galant Damonse (skrumskakel) geleentheid gegee om goeie besit vir die agterlyn deur te gee.
Losskakel Johan Koopman het op sy beurt die oog gevang met goeie taktiese skoppe en vlymskerp agterlynbewegings.
Een so ’n beweging het dan ook vir Enrico du Preez (buitesenter) ’n gaping geskep om te gaan druk sonder dat ’n Belhar-verdediger ’n hand op hom kon lê.
Belhar slaag toe met ’n strafdoel.
Franschhoek antwoord egter weer met ’n pragdrie deur Jason Davids.
Davids het met sy dartellopie die verdediging behoorlik laat klei trap, waarna hy ’n skoppie oor die kop van Belhar se heelagter sit, die bal weer vang en druk.
Damonse het met twee strafdoele en twee doelskoppe geslaag.
Dit was ’n broodnodige wen vir Franschhoek omdat die middelorde van Divisie 1 in ’n taai stryd gewikkel is om relegasie vry te spring.
Franschhoek II het 5-3 verloor terwyl die derde span 17-7 gewen het.
Franschhoek speel Saterdag hul laaste wedstryd van die seisoen weg teen Strand en die bus vertrek om 11:30.
Die klub speel op 23 September vriendskaplike wedstryde teen Kylemore Rugbyklub as deel van dié klub se feesvieringe. Spelers bo 35 en vrouespelers kan die klub nader rakende wedstryde.
More
News
|