Paarl Rugbyklub dalk bevorder
2006-09-14
DIE eerste span van die Paarl Rugbyklub moet die naweek sy laaste ligawedstryd met ’n bonuspunt wen as hy hoop om na die Superliga B bevorder te word.
Paarl se 60 ligapunte besorg hom tans van ’n tweede plek op die punteleer van Divisie 1.
Heel gepas is dit die huidige voorloper, Strand United (64) wat die Paarliete Saterdag in die Strand moet klop as hulle die liga wil wen.
Die besoekers sal dan wil verseker dat Strand United nie ’n bonuspunt uit die wedstryd verdien nie.
Paarl het Saterdag op die Faurestraat Stadion die Strand Rugbyklub 18-10 geklop.
Die telling vlei egter die besoekers aangesien Paarl heelwat kanse gehad het om punte aan te teken, maar deur gebrekkige afronding in die steek gelaat is.
Oudergewoonte het die tuisspan se voorspelers weer die oorhand gehad. Dit het die agterlyn van genoeg balbesit voorsien om voortdurend aan te val.
Die wedstryd is egter agt minute vroeër gestop omdat die besoekers met gevaarlike doodvatte die spel ontwrig het.
Dit het die Paarl ’n moontlike bonuspunt gekos aangesien hul op daardie stadium sterk op die aanval was.
Paarl se drieë is deur Terence Valentyn (vleuel), Hannes Douglas (flank) en Gavin Williams gedruk.
Zack Jackson het met een strafdoel geslaag.
Die tweede span het 22-8 gewen terwyl die derde span 24-15 verloor het.
Die o.20-span het sy laaste wedstryd teen Helderberg 15-11 verloor.
Die spannetjie het ’n goeie seisoen beleef en onder die voorste drie spanne in die liga geëindig.
Die manne van Young Peoples Rugbyklub het hul 17-16 nederlaag teen Albions vroeër dié seisoen gewreek toe hulle Saterdag dié span 17-13 geklop het.
Die wedstryd is tussen die twee pakke voorspelers beslis.
Nie een van die spanne kon in die eerste helfte werklik op dreef kom nie, met ’n geniepsigheid onder die spelers wat die spel van enige vloei ontneem het.
Goeie verdediging deur Peoples se agterlyn het verhoed dat Albions sy ritme vind.
Teen rustyd het Peoples met 9-6 die voortou geneem nadat Delwayne Cornelissen met drie strafdoele geslaag het. Albions se twee strafdoele is deur Dominic Daniels (losskakel) behaal.
In die tweede helfte het die Tiere met meer doelgerigtheid gespeel en is hulle met ’n drie deur Luantion Abelse beloon. Dié vleuel het die deurslaggewende drie gedruk, nadat hy ’n Albions-skop afgestorm het.
Albei spanne is met ’n geelkaart gestraf vir die bal op die grond speel.
’n Skepdoel deur die senter, Kurt Martin, het Peoples se voorsprong na 17-6 verleng.
Albions het egter nie gaan lê nie. ’n Drie deur die plaasvervanger-vleuel, Christopher Kainda, asook die gepaardgaande doelskop deur Adams, besorg Albions van ’n bonuspunt.
Dié sege het Peoples ’n vierde plek op die Divisie 1 punteleer besorg, met 39 punte.
Albions II het 9-8 gewen terwyl die derde spanne 22-22 gelykop gespeel het.
Peoples speel Saterdag sy laaste ligawedstryd weg teen Kraaifontein. Die bus vertrek om 11:00.
More
News
|