Beste olyfolie gesoek
2006-09-14
DIE snelgroeiende Suid-Afrikaanse olyfbedryf gaan binnekort aankondig wie die beste olyfolie en tafelolywe maak en ook wie die afgelope jaar ‘n uitsonderlike rol in die ontwikkeling van die bedryf gespeel het.
Die beoordeling is verlede week in die Paarl gedoen.
Die Suid-Afrikaanse vereniging, wat as SA Olive bekend staan, sę dis die eerste keer dat die produsente van tafelolywe mekaar in ‘n plaaslike kompetisie aandurf en ook die eerste keer dat ‘n persoon of liggaam vir sy of haar bydrae vereer word.
Die olies is in een van drie kategorieë (delikaat, medium of intens vrugtig)ingeskryf en slegs ekstra rein olies is toegelaat.
Ingemaakte (tafel-) olywe ding in die klasse groen, swart of gegeur mee en word volgens aroma, voorkoms, egaligheid, geure soos souterigheid en suur, tekstuur en algehele balans beoordeel.
SA Olive se toekenning vir Presteerder van die Jaar gaan aan enige kandidaat wat met die vereniging verband hou en kan ‘n kweker, kwekery, tafelolyf- of olieverwerker of enige ander persoon wees wat met olywe te doen het en deurslaggewend vir die ontwikkeling en groei van die plaaslike bedryf was.
Die beoordelaars sal veral op die uitkyk wees vir ‘positiewe energie, inhoud en toepaslikheid.
Die besluit oor SA Olive se Presteerder van die Jaar berus by Peter Dall van die SA Landboubemarkingsraad, Absa-ekonoom Adri Esterhuyse, SA Olive se voormalige voorsitter John Scrimgeour en die olyfkweker Allan Stuart.
Die uitslae sal aangekondig word tydens ‘n glansdinee by Laborie landgoed in die Paarl op Donderdag 28 September.
Die proepaneel bestaan uit die bekroonde olyfoliemaker Gerrie Duvenage, die SEE-kundige Anzel Adams, joernalis Romi Boom, sjef Craig Cormack, olyfoliekenner en lid van die Register of Extra Virgin Oil Servantes Linda Costa, mede-outeur van die boek Olives & Oils of South Africa Wendy Flannagan, die Kaapse Wynmeester Juliette Cullinan, die bekroonde wyn- en erkende olyofoliemaker Reni Hildenbrand en Hermanus se oliemaker Noeil Vorster.
More
News
|