Sakeman se noue ontkoming
2006-09-21
’n SAKEMAN van Paarl-Oos het verlede week ’n noue ontkoming gehad toe hy in die vroeë oggendure ontvoer is.'
Achmad Mohammed, eienaar van Bakermann’s bakkery in Jan van Riebeeckweg, het oudergewoonte 03:00 die oggend sy onderneming oopgesluit om sy ware gereed te kry vir versending.
Hy is deur twee mans oorval wat hom met ’n vuurwapen gedwing het om die kluis oop te sluit en al die kontant daarin aan hulle te oorhandig, asook sy selfoon.
Hierna het hulle hom in sy groen BMW ingedwing. Hulle het in die rigting van die N1 gery, en hom ongedeerd uit die motor gegooi in Suider-Paarl.
Die mans het met bykans R45 000 gevlug, asook die motor (CJ 23754).
’n Stomgeslaande Achmad het gesê dat hy nooit in sy wildste drome gedink het dat so iets met hom sal gebeur nie.
“Daar is reeds talle winkels in dié omgewing beroof, maar ek het nog altyd veilig gevoel,” het hy geskok gesê.
“Maar toe dit met my gebeur het ek net alles aan hulle oorgegee en gedoen wat hulle gesê het ek moet doen.
“Ek het aanhoudend aan my vier seuns gedink en gebid dat niks met my gebeur nie. Ek is steeds geweldig geskok, maar is baie verlig dat ek nog lewe.”
Achmad het gesê dat hy sy sekuriteit nou sal opknap om te verhoed dat so iets weer gebeur.
Mense met inligting kan vir inspekteur Auckland Losper skakel by 807-4000.
* A Paarl businessmen was robbed and kidnapped last week.
More
News
|