Groot uitdaging wag vir Roses United
2006-09-21
DIE eerste span van Roses United Rugbyklub het reeds twee van sy doelwitte vir die jaar behaal toe hy onlangs as die Boland Premierliga-kampioen gekroon is én vir die Nasionale Klubrugbykampioenskappe gekwalifiseer het.
Die grootste uitdaging, om as die beste rugbyklub in die land gekroon te word, lê egter nog voor.
Dié klub van Wellington kan egter ook dié droom bewaarheid as hy volgende week tydens dié toernooi op Stellenbosch sukses behaal. Vir Roses United, ’n voorheen benadeelde span, het vanjaar se prestasies egter nie maklik gekom nie.
Die klub het ses jaar gelede ontstaan toe die spanne van Roslins en Rosesbuds besluit het om saam te smelt.
“Ons het besef dat om suksesvol te wees, moet jy skaars hulpbronne saamvoeg om só doelwitte te bereik,” sê Willem Smal, ondervoorsitter van Roses United.
“Albei spanne het spelers en bestuurslede met goeie vaardighede en kennis gehad en die byeenbring van die talente het die grondslag vir Roses United se sukses gelê.”
In die beginstadium was daar ook verskeie negatiewe elemente teenwoordig in die klub.
Vuilspel en oproerigheid sowel op en van die veld af, het die klub vir die verkeerde redes in die kollig geplaas.
“Na diepe besef en introspeksie is daar besluit om dit met wortel en tak uit te roei en dit het die basis gelê vir Roses se suksesverhaal tot dusver,” voeg Smal by.
Roses het reeds met die eerste jaar ná eenwording sukses behaal toe hulle na Boland se voorste liga, die Superliga A, bevorder is. In 2005 het Roses derde geëindig in dié kompetisie.
Wat die klub se sukses merkwaardig maak, is die feit dat hy sonder enige erkende borg funksioneer. Soos menige sportman weet, bemoeilik gebrekkige finansies altyd ’n span se vertoning op die veld.
“Die meeste van die klub se spelers kom uit arm gemeenskappe wat dit vir hul moeilik maak om vir dinge soos busvervoer en rugbyuitrustings te betaal.
“Ons is ook die enigste span wat nie sy spelers, afrigters en bestuurslede vir hul dienste betaal nie,” sê Smal.
Die goeie vorm van Roses se spelers dié seisoen is verder duidelik as ’n mens kyk na sy verteenwoordiging in die Boland-spanne.
Agt van die klub se spelers is in Boland se Amateur-span opgeneem terwyl drie in die Boland o.21-span gespeel het en vier vir die Fidentia Boland Kavaliers uitgedraf het.
Op bestuursvlak is die klub se direkteur van afrigting, Francois Davids, ’n uitvoerende bestuurslid van Boland Rugbyunie en lid van die keurderpaneel van die Lions (Cats) se Super 14-span vir 2007, terwyl Abie Davids, Roses se hoofafrigter, ook die Boland Amateurspan afgerig het.
Die Klubkampioenskap begin Sondag in Stellenbosch en Roses speel om 14:30 in sy eerste wedstryd teen Cambridge van Oos-Londen (Grens) op die Danie Craven Stadion.
Dinsdag kom hulle in die hoofwedstryd teen die gedugte span van Shimlas te staan. Die stryd skop om 17:30 op die Danie Craven Stadion af.
In voorbereiding vir die toernooi het die span verskeie oefensessies gehad, asook ’n oefenkamp by Drakenstein Gevangenis.
Die klub hou vanaand ’n “Crown the Champions Event” in die Wellington Stadsaal, waar die spelers hul uitrustings sal ontvang.
Die groep wat in die klubkampioenskap gaan speel, is Franzel September (k), Marthinus Peters, James Davids, Francois Mckenzie, Lionel September, Martin Nel, Shane Jacobs, Denver Coert, Morné Goetham, Burton Abrahams, Sebastian Hilpert, Igie Korabie, Goodwin Moses, John-Lee Nortje, Claude Arendse, Monrico Morris, Danie Roeman, Michael Abrahams, Johnathan Schalkwyk, Alrich Muller, Cornell Hendricks, Alvin Hugo, Deon Williams, Earl Manie, Mervin Manus en Jacquin Rutford.
Die bus na Stellenbosch vertrek Sondag om 11:00 vanaf Claassenstraat in Wellington, prys is R30 (R20 kinders bo 9 jaar).
More
News
|