Vrouemag bobaas in plaaswedstryd
2006-09-21
DIE wenner van die Bergrivier Streek se tweede Plaaswerker van die Jaar kompetisie is Donderdag by ’n uithanggeleentheid op Nelson’s Creek aangekondig.
Hierdie jaar het vrouemag koning gekraai, want Le-Anne Otto van die plaas Watervliet 1 (Conradie Boerdery) by Halfmanshof naby Saron, het met die louere weggestap. Sy is gekroon as die streek se plaaswerker van die jaar en spog ook met die eerste prys in die Junior Bestuur-afdeling.
Ander kategoriewenners was Jannie van Rooyen (algemene werker), Jan Daniels (middelbestuur), Willie Ontong (administratiewe bestuur), Andries September (chemiese operateur) en Frikkie Markus (besproeiingspesialis).
Hierdie jaar is 122 inskrywings van 22 plase uit Paarl, Windmeul, Saron, Porterville en Piketberg ontvang.
Die doel van die kompetisie is om erkenning aan plaaswerkers in die tafeldruifbedryf te gee en ook om moontlike rolspelers wat ’n verskil in die bedryf kan maak, te identifiseer.
Otto, ’n ma van vier kinders, is die leier van ’n groep van 22 op die plaas. Sy dring nou deur na die Provinsiale Plaaswerker van die Jaar Kompetisie op 26 Oktober in Kaapstad.
Volgens plaasbestuurder Kobus Bothma wat reeds elf jaar saam met haar werk, is Otto ’n betroubare spanleier, hardwerkend, met ’n innemende geaardheid.
“Sy doen uitstekende werk as kwaliteitskontroleur in die pakstoor." Hy sê dat opleiding as motivering baie belangrik is, sodat die werkers kan ontwikkel.
Vir Otto was dit ’n trotse oomblik: “Ek moes myself knyp om te besef dat ek nie dalk droom nie.
“Die prys span die kroon op jare se harde werk. Ek het dit vir my Skepper en vir die span gedoen.
“Jy moet aanhou en aanhou en nie moed verloor nie en dit is wat ek ook aan my kinders leer,” sê sy.
Die eregas by die geleentheid was die provinsiale Minister van Landbou, Cobus Dowry.
Die beoordelaars was Jack Wittles, voorsitter van Bergrivier Druiwe, Alie van Jaarsveld, mediaskakelbeampte van die Wes-Kaapse Ministerie van Landbou, Cerina Kruger, Produsentbestuurder SA Tafeldruif Industrie (SATI), Vanda Nicols (SATI) en Petrie de Kock van Bayer Crop Science.
More
News
|