Geraas moet wetstoepassers laat wakker skrik
2006-09-21
DIT is met reëlmaat dat in die briewekolum gelees word van inwoners wat deur rasende belhamels geteister word. “Geraasterrorisme” is net een van daardie tipiese selfsugtige euwels van die hedendaagse samelewing.
Daar is geen respek meer vir ander se privaatheid nie. Sondae word nie eens meer gespaar en eerbiedig nie. Solank drank hul dryf of ander hul geldkoffers kan vul, dan voel hierdie mense vere vir ander rondom hulle.
Wat kommerwekkend is, is die verwaande en onbetrokke houding en reaksie wat meestal verkry word van beide wetstoespassers en geraasmakers in reaksie op hierdie klagtes.
Die vraag word ook telkemale geopper, “Is daar nie wette wat geraas verbied nie?”
Daar is beslis wetgewing wat dit aanspreek. Die Regulasies insake Geraasbeheer P.K. 627/1998 (Wet op Omgewingsbewaring, 1989), sowel as die Standaardverordening insake Strate P.K. 562/1987, is beide baie duidelik oor wat as geraasoorlas beskou word.
In kort is ‘n geraasoorlas, “enige klank wat die gerief of rus van enige persoon versteur of aantas.” Hierdie wette sit verder duidelik uiteen wat nie toelaatbaar is nie en op watter wyse opgetree moet word teen oortreders.
Dit is net ‘n kwessie van ons wetstoepassers wat skitter in hul afwesigheid - beamptes wat nie hul wetgewing ken nie of net eenvoudig hul plig versuim.
Daar word duidelik getas in die donker as mens kyk na die reaksies van die beskuldigde partye (wat hulle optrede probeer regverdig) en ook dié van wetstoepassers.
‘n Eenvoudige voorbeeld – daar is die persepsie dat geraas net iets is wat na ‘n sekere tyd in die aand plaasvind. Nee, geraasbeheer moet en kan 24 uur per dag toegepas word. Gaan lees julle wette, manne en vroue!
As Plaaslike Owerheid het Drakenstein Munisipaliteit die plig om klagtes te ondersoek en op te tree teen alle geraasoorlaste. Beskik hul egter oor die wil én kundigheid om dit aan te spreek?
Dit is hoogtyd dat die Wetstoepassingsafdeling hul taak verrig.
Enkele jare gelede was die verskoning van ons stadsvaders dat daar nie mannekrag is en dat dinge sal verbeter sodra daar ‘n Wetstoepassingsafdeling op die been gebring word.
Noudat daar wel so afdeling is, bevraagteken mens hul effektiwiteit. Waar is die Afdelingshoofde en Raadslede?
Dit is kommerwekkend dat soveel van die geraasoorlaste geskied op munisipale eiendom. Parke, strate en oop ruimtes is vergaderplekke vir geraasmakers.
Hoeveel ander wette word ook nie hier oortree nie? Dit is asof die stadsvaders hul blind hou vir die oortredinge op hul eie eiendom.
‘n Mens wonder ook waar ons stadsbeplanners is? Moet hulle nie ook waak en standaarde stel waar besighede aansoek doen en waar potensiële geraasoorlaste kan ontstaan (plekke soos nagklubs, onthaal- en eetplekke waar musiek gespeel word en so meer). Het Stads-en Streeksbeplanning nie juis dit ten doel om ‘n optimum milieu vir sy inwoners te verseker nie?
Die oplossing is eenvoudig:
(1) Vir die Geraasmakers - As jou geraas gehoor kan word buite die grense van jou perseel/eiendom/voertuig, dan moet jy weet jy skep probleme vir mense in jou omgewing. Gebruik jou verstand en pas hierdie goue reël toe.
(2) Vir die Wetstoepasser - Reageer op die klagtes van die persone wat julle moet dien en los dit bevredigend op. Om die skuldige se onskuld te probeer bewys of te wens dat die probleem sal weggaan, sal u geen punte laat wen nie.
Jean Blaton
More
News
|