Laurinda Hofmeyr toer
2006-09-28
EKSOTIES, magies en sielvol met ’n verskeidenheid aangrypende toonsettings van Afrikaanse gedigte. Drie gode van musiek laat die gehoor uit hul hande eet.
Dit is hoe die Krit feeskoerant Laurinda Hofmeyr van die Paarl se program vroeër vanjaar beskryf het.
Nou kan aanhangers van haar musiek uitsien na ‘Drie’ haar nuwe vertoning. Dinsdagaand is sy op Stellenbosch in die Klein Libertasteater (883-8164/36) en Sondag 8 Oktober in Kaapstad in die Obz Café (448-5555).
Die program “Drie” is ’n vertoning gelaai met Laurinda se gewildste toonsettings (en ’n paar splinternuwes), uitgevoer deur ’n musikale driemanskap wat die gehoor meesleur, altyd met ’n oor en ’n oog op die magiese getal, drie.
Laurinda se subtiele stem en klavierspel word afgerond deur twee gesoute en gerekende musikante.
Schalk Joubert (baskitaar) is haar jarelange musiekvennoot wat in sy suksesvolle loopbaan as sessiemusikant al saam met enigiemand van Anton Goosen tot Gloria Bosman gespeel het.
Die derde lid van die trio, die tromspeler David Klassen, is onder meer bekend is vir sy spel in TV-programme soos ‘Noot vir Noot’ en ‘Strictly come dancing’.
Meer besonderhede verskyn op Laurinda se webwerf www.laurinda.co.za. Vir besprekings, skakel ook 082-854-7491.
More
News
|