Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bergrivier krieket keelvol vir swak geriewe

Bergrivier krieket keelvol vir swak geriewe
 
2006-09-28


SPELERS en administrateurs van Bergrivier Krieketklub is nou keelvol vir die derdehandse behandeling wat hulle van die Drakenstein Munisipaliteit ontvang.

Die voortslepende gesukkel met ’n sub-standaard veld, baanblad en ander geriewe het die klub nou op die oorlogspad.

“Dit is nou al die klub se 15de bestaansjaar en steeds sit ons met dieselfde probleem van swak geriewe. Dienslewering van die munisipaliteit is uiters swak en die toestand van ons veld is haglik,” sê die klubvoorsitter, Julius Williams.

In 2004 het Bergrivier Krieketklub die voorblad van die Paarl Post gehaal toe een van sy beste spelers, weens gate in die veld, sy enkel tydens ’n wedstryd gebreek het.

Sedertdien het niks drasties verander nie.

“Ons as bestuur het reeds ál die kanale gevolg wat ons moet, maar niks het vrugte afgewerp nie.

“In Julie vanjaar was ons in gesprek met amptenare van die Munisipaliteit en Boland Krieketraad.

“Op dié vergadering het ons al ons frustrasies en misnoeë te kenne gegee rondom die haglike toestand waarin ons veld verkeer. Albert van der Merwe (hoof van Parke by die Drakenstein Munisipaliteit) en Toppie Brand (veldopsigter) het ons beloof dat daar na die veld omgesien sal word.

“Niks het intussen verbeter of verander nie.”

Hoewel die Munisipaliteit ook elke dag werkers by Bergrivier se krieketveld het, word daar niks gedoen nie.

“Die werkers op die veld is aan hulle eie lot oorgelaat. Hulle het al vir my gesê hulle werk volgens geen program nie. So gaan dit nou al aan vandat die seisoen in Februarie vanjaar ten einde geloop het,” sê ’n knorrige Williams.

Dit blyk dat ’n gebrek aan toerusting ook ’n groot kopseer is.
“Daar is net nooit ’n bladroller beskikbaar nie of geld om grond en ander materiaal te koop nie.”

Volgens Williams het die sportkoördineerder van Drakenstein Munisipaliteit, Maawyah Moerat, verlede Woensdag ook die kolfblad onder oë gehad om te sien in watter swak toestande die spelers moet speel.

“Ek het vandeesweek ’n vergadering gereël met al die klubs, onderskeie terreinopsigters en baanopsigters, waar die klubs ons presies kan inlig wat hulle van ons verwag,” het Moerat vandeesweek gesê.

“Daar was in die verlede nog nooit vergader om dié behoeftes aan te spreek nie,” het hy bygevoeg.

Hy was beslis daaromtrent dat die toestand by Bergrivier Krieketklub nie kan voortduur nie.

“Hopelik sal die vergadering help dat ons in die toekoms kontinuïteit kan kry in die voorbereiding van die krieketvelde.”

Dit blyk die Wellington Sportforum, wat vroeër vanjaar ook in die lewe geroep is, ook nie gehoor wil gee aan die klub se probleme nie.

Die forum het nog nie uitsluitsel gegee rakende die opgradering van die klubhuis nie.

“Ons as klub is nog in die duister ten opsigte van die klubhuis. Sedert die bouwerk voor-verlede jaar gestaak is, het daar nog geen ontwikkeling plaasgevind nie.”

Daar is tans R320 000 beskikbaar vir opgraderingswerk uit die begroting van die Wellington Sportforum.

Die bedrag moet verdeel word tussen twee projekte wat reeds verlede jaar geïdentifiseer en deur die munisipaliteit goedgekeur is; die ontwikkeling van Bergrivier Krieket se klubhuis en die ontwikkeling van die Pelikaanpark sportveld.

Sedertdien het daar nog geen verdere ontwikkeling op enigeen van die projekte plaasgevind nie.

Op ’n vergadering van die Wellington Sportforum op 21 Augustus het die voorsitter, Jerry Seale, gesê dat alle projekte tans “op ys is”.

“Boland Krieketraad wil ons help, maar ons moet weet wanneer en hoeveel geld ons presies van die forum moet kry,” het Williams gesê.

Volgens Moerat is alles gereed om met dié projekte voort te gaan, die forum moet nog net die besluit neem oor hoe die geld tussen die twee projekte verdeel gaan word.

“Ek het al reeds ’n maand gelede vir hulle (die forum) gesê om die besluit te neem. Ek sukkel egter om ’n vergadering met hulle gereël te kry, sodat ons die kwessie na ’n punt kan bring,” het Moerat gesê.

“Dié forum is veronderstel om ’n platvorm te wees vanwaar die leemtes en probleme van alle sportgeriewe in die dorp aangespreek word.

“Dit wil egter voorkom asof die sportforum maar net nog ’n meganisme is om dinge te vertraag. Wat is dan die werklike doel en taak van die forum?

“Daarby moet ons as klubs ledegeld betaal aan die forum, maar ons kan tans nie sien hoe ons in die toekoms daarby sal baat vind nie,” het Williams gesê.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za