Roses platgeduik
2006-09-28
HOEWEL die ondersteuners van Roses United Rugbyklub Sondag in groot getalle opgedaag het om hul span luidkeels en heelhartig te ondersteun, kon dit nie vir die Wellingtonners ’n sege besorg in hul eerste wedstryd van die Nasionale Klubkampioenskap nie.
Die Boland kampioen is in ’n aanskoulike en harde wedstryd deur Cambridge van Grens 40-36 platgeduik.
Roses het die eerste bloed geruik toe die linkervleuel, Alvin Hugo, in die derde minuut in die hoek oorgeduik het.
Cambridge slaan egter terug met twee goed bewerkte drieë vir ’n voorsprong wat hul tot met die eindfluitjie sou behou.
Rustyd het die Grens-manne met ’n voorsprong van ses punte (18-12) gaan water drink, nadat Roses se Danie Roeman (losskakel) ’n strafdoel net voor die halftyd-fluitjie verbrou het.
Die Bolanders het deurgaans in die vaste skrums gesukkel met die swaarder Cambridge-pak wat gereeld die skrum meer as 90° laat draai het en so omgekeerde besit verseker het.
Die spanne was andersins baie gelyk, met beide agterlyne wat met gevaarlike hoeke aangeval het en die skare op aanskoulike rugby getrakteer het.
Roses verdien 'n klop op die skouer vir die manier waarop hulle in die doodsnikke teruggeveg het.
Twee doele in die laaste vyf minute het die telling aansienlik meer vleiend vir die Bolanders gemaak.
Roses se ander drieë is deur Earl Manie, Cornal Hendricks (2) en Jonathan Schalkwyk (2) gedruk. Manie (2) en Daniel Roeman het met doelskoppe geslaag.
Roses het Dinsdag in die plaatkompetisie teen Hartswater te staan gekom.
More
News
|