Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dit koop op Wellington

Dit koop op Wellington
 
2005-04-28

Malané Bosman

DOOIERIGE dorp? Nie die Wellington van vandag nie. Dit wemel van ontwikkelings wat grondeienaars ewe entoesiasties stem as voornemende huiskopers.

Dis veral die behoefte aan huisvesting vir die groeiende studentetal wat ontwikkelaars na argitekte laat draf het met persele waarop drie-verdiepingblokke gebou kan word.

Die landelike atmosfeer, goeie skole en die maklike toegang tot die Skiereiland is die redes wat deur beleggers en huiskopers aangevoer word vir die belangstelling in die meer as 500 wooneenhede wat op Wellington in aanbou is.

Die masjinerie brul reeds met grondverskuiwing vir 19 luukse wonings van die Bainkloof Estate ontwikkeling agter die destydse Bakkies se Padstal.

Alhoewel daar teenkanting is van bure oor die beoogde riolering, en die ingenieursdienste nog nie deur die Munisipaliteit uitgeklaar is nie, meen die ontwikkelaars Adrian and Paul King die erwe sal nog vanjaar te koop aangebied word.

Die huise, met sandsteen afgewerk om in die berg te smelt, is in ’n prysklas van sowat R1,5 miljoen.

Werk begin ook vanjaar daar aan ’n konferensiefasiliteit van Bakkies Smit.

Soos Bakkies is Wellingtonners erg opgewonde oor die groei en ontwikkeling van die eiendomsmark.

“Dit doen skade aan die ou-dorpie beeld, en baie mense het juis hierheen gevlug om asem te skep,” het Bakkies gesê.

“Maar dis die prys van vooruitgang. Ons moenie in die pad van entoesiasme staan nie. Dis wonderlik hoe lewend Wellington is.”

Die 66 twee- en drie-slaapkamer plot-en-plan wonings met tuine in die Bainsvallei ontwikkeling, sal van vroeg volgende jaar teen van R750 000 tot R1,4 miljoen beskikbaar wees.

Dié ontwikkeling met toegangsbeheer aan die oostelike eindpunt van Kerkstraat, sal die landelike atmosfeer van die Bovlei weerspieël.

Die ou klavierfabriek in Bainstraat wat die afgelope jare klein nywerhede gehuisves het, verander eersdaags van gestalte.

Ontwikkelaar John Smook beplan drie verdiepings met 125 studentewoonstelle. Die historiese fasade word behou, en die klaviertema sal in die benaming van die vleuels en versiering gebruik word.

In die R47 miljoen Dukes Estate ontwikkeling is slegs drie van die 55 eenhede wat sedert Januarie teen die wingerde in Ranzadale gebou is, nog teen R925 000 te koop.

Die grootste belangstelling was van beleggers en kopers uit Wellington en die noordelike voorstede. Slegs vier kopers het wonings vir spekulasie aangeskaf.

“Dit is interessant hoeveel kopers sê hulle werk van die huis af, soos verteenwoordigers. Hulle kan enige plek woon en daarom kies hulle die atmosfeer van Wellington en die landelike gevoel van dié ontwikkeling,” het Johan de Bruyn van Dukes gesê.

By Diemersfontein word ’n sekuriteitsdorpie met 108 eenhede, ’n klubhuis, swembad en tennisbane deur eienaar David Sonnenberg en ’n oorsese belegger opgerig.

Die eenhede verkoop teen ’n gemiddelde prys van R1,3m met die eerste nege gereed vir besetting in Desember.

Terwyl dit permanente inwoners in die sekuriteitskompleks sal wees, is die kopers van die enkel-erwe in die wingerd meestal beleggers wat luukse vakansiewonings soek.

Die meeste van die 18 beskikbare een-hektaar erwe met eie wingerd, asook 12 kleiner erwe, is al verkoop vir R750 000 tot R1 miljoen.
Op die dorp self het veral die groei in studentegetalle losiesplekke soos paddastoele laat oprys.

Eenhede in die beoogde Fountain ontwikkeling op die hoek van Fontein- en Malherbestraat sal bemark word tussen R420 000 en R800 000.

Daar is 14 ontwerpe om van te kies vir die 75 wooneenhede. Die grondvloer onder die drieverdiepings wooneenhede is vir sakedoeleindes.

Verkope van die Fountain word op 12 Mei geloods, met beplande voltooiing in Oktober volgende jaar.

Die nuwe eienaars van die 35-eenheid Riverside Apartments op die hoek van Malherbe- en Oosstraat, sal 1 Augustus kan intrek.
Dis ook nie net in die huismark dat Wellington blom nie.

Ongedienste erwe in die Wellington Nywerheidspark word ook nou deur die Munisipaliteit beskikbaar gestel vir verkoop aan goedgekeurde kopers.

“Wellington is nou woelig, en lekker,” som ’n eiendomsagent die situasie op.



More News
  • Hotel to convert to retirement centre
  • Nuwe daghospitaal vir Noorder-Paarl
  • Progress in Klapmuts
  • Green office block planned for Paarl Mall
  • Skole speel groot rol in Drakenstein se eiendomsmark
  • Woonstelmark wil-wil wakker word
  • Objections to Waterfront development
  • Farm up for auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za