Wellingtonners geskud
2006-10-05
TALLE Wellingtoners is verlede Woensdagnag letterlik uit hul beddens geskud, toe ’n ligte aardbewing dié gebied getref het.
’n Aardbewing wat 3.5 op die Richterskaal gemeet is, het Ceres ongeveer 23:50 getref, en dit is so ver as Wellington gevoel.
Maude Flick het gesê dat dit vir haar soos ’n aankomende trein gevoel het en sy het vir omtrent ’n minute gevoel hoe bewe haar huis.
Nog ’n bekommerde inwoner het vertel dat sy wakker geskrik het en gehoor het hoe haar vensterrame rittel.
’n Polisieman van Newton wat aan diens was het ook bevestig dat hy die aardbewing gevoel het.
Verlede Donderdag was daar orals gissinge oor die moontlikheid dat ’n grote dié gebied gaan tref, soos die verwoestende aardbewing wat Ceres en Tulbagh op 29 September 1969 getref het.
Daardie aardbewing wat 6.3 op die Richterskaal gemeet het, se skok is so ver as Durban gevoel en dit het chaos veroorsaak in dié dorpe.
Die vrese van ’n groot aardbewing het nou wel afgeneem, maar volgens die Raad vir Geo-wetenskap is dit net ’n kwessie van tyd totdat ’n groot skudding weer plaasvind.
More
News
|