Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland mik na sokker

Boland mik na sokker
 
2006-10-05


GERUGTE dat die Boland Rugbystadion op Wellington gesloop gaan word om plek te maak vir ’n wêreldgehalte sokkerstadion vir 2010 is op dié stadium ’n baie vae bespiegeling.

So het mnr Jackie Abrahams, president van Boland Rugbyunie, vandeesweek gesê.

“Dit is ’n lang proses wat deurloop moet word voordat dit kan gebeur. Dorpe in die Boland moet aansoek doen om as ’n oefengerief vir ’n span gekeur te word.

“As ons nie gekies word nie, sal ons nie die veranderinge aan die stadion aanbring nie,” het Abrahams gesê.

Die finale keuring, indien enige, van ’n stadion in die Boland om as ’n basis vir 2010 sokkerspan te dien, sal eers in September 2007 gefinaliseer word.

Tydens Vrydagaand se amptelike loodsfunksie van die Mayoral Cup sokkertoernooi het Vernon Seymour, president van SAFA Wes-Kaap, gemeld dat die Drakenstein Munisipaliteit as een van die nege areas geïdentifiseer is om as oefenbasis te dien vir ’n internasionale span.

Hy het bygevoeg dat Brasilië dalk een van die spanne kan wees wat hier ’n setel kan hê.

“Dit hang alles nog egter af van Fifa se tevredenheid met die geriewe. Hulle sal hul voorskrifte vir ’n voldoende oefenveld aan ons deurstuur en ons sal dié voorskrifte aan die gekose stadion in die Boland deurgee.

“Fifa sal dan ook seker eers die verbeteringe kom ondersoek om te sien of dit hul goedkeuring wegdra,” het die sportkoördineerder by Drakenstein Munisipaliteit, Maawyah Moerat, gesê.

’n Verandering wat wel nader in die toekoms lê, is die opgradering van die besproeiingstelsel en dreineringstel van beide die A- en aangrensende B-veld van Boland Stadion.

“As ons nog ’n jaar of twee moet wag om uitsluitsel te kry oor die veranderinge aan die stadion vir 2010, sal ons beslis voortgaan om die veld en sy grasoppervlakte op te gradeer,” het Boland se uitvoerende beampte, Piet Bergh gesê.

Hy het bygevoeg dat die huidige helling in veldoppervlakte wat tans dreinering aanhelp, verander sal word vir die sokkerwedstryde wat van volgende jaar af op Boland Stadion gespeel sal word.

Boland se hoofborg, Fidentia, se sokkerspan Fidentia Rangers se tuiswedstryde sal van volgende jaar op Wellington gespeel word.

Fidentia het die sokkerspan, voorheen Manning Rangers, vroeër vanjaar uitgekoop en die span van Durban na Paarl geskuif.

Manning Rangers was in 1997 die eerste wenners van die Premier Sokker Liga.

Fidentia het vanjaar ook die Nasionale Klubrugbykampioenskappe geborg wat in Stellenbosch gehou is.Die borgskap het dan ook tot gevolg dat dié vooraanstaande toernooi vir die volgende vier jaar op Boland Stadion gespeel sal word.

* Boland hopes to host a Soccer World Cup team in 2010.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za