Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kabeldiewe se lont deur Telkom geknip

Kabeldiewe se lont deur Telkom geknip
 
2006-10-05


NA weke van van sukkel sonder telefoonlyne in die Daljosafat-gebied, is twee mans Maandag vasgetrek vir kabel-diefstal.

Boere en besighede in dié gebied sit die afgelope ruk met hul hande in hul hare weens gebrek aan kommunikasie. Hulle verloor ook derduisende rande weens die ongerief.

’n Inwoner vertel hoe werknemers van Telkom een oggend die kabels reggemaak het net sodat die einste kabels dieselfde aand gesteel kon word.

Sondagaand was geen uitsondering nie en die volgende oggend was daar weer nie telefoonkonneksie nie.

Werknemers van Telkom het by sakeman Chris van der Westhuizen aangeklop om te vra of hulle bome op sy grond kan afkap waar die diewe opklim om kabels te steel.

Van der Westhuizen het saam met hulle gery om te gaan kyk en hulle hoor toe ook dat daar naby Fairyland se begraafplaas kabels gesteel is.

Toe hulle daar gaan kyk, het Chris met drie jong mans gespot en gesê dat die kabel-diefstal nou moet ophou.

Een van die mans vertel vir hom dat hy ’n kort ruk tevore twee mans sien stap het met ’n winkel-trollie vol koperdraad in die rigting van Jan van Riebeeckrylaan.

Van der Westhuizen jaag toe na die naaste skroot-verkoper, Paarl Scrap Metal, in Oosterlandstraat.

Binne was ’n aantal mense en hy het ’n rol koperkabel op die grond sien lê.

Die verkoopsman wou eers nie sê wie die draad wou verkoop nie, maar hy het uiteindelik ’n man aan Chris uitgewys. Albei mans het dadelik die pad gevat.

Van der Westhuizen is agterna en hy het een man platgetrek terwyl ’n verbyganger die ander een raak gevat het.

Die polisie is ingeroep en Dawid Phambuka en Patrick Meyer, albei van Fairyland, is in hegtenis geneem vir diefstal.

Een van die verdagtes het ’n papiertjie in sy sak gehad van Paarl Scrap Metal, met die gewig van 27.1 kg daarop geskryf.

Koperkabeldiewe verdien tussen R40 en R52 per kg vir hul gesteelde goedere.

Van der Westhuizen verduidelik dat hy ongeveer R200 000 verloor elke dag wat hy sonder telefoonkommunikasie sit.

“My hele besigheid maak staat op daaglikse bestellings wat oor die telefoon, faks en internet gemaak word. Ek wil nie eens dink hoeveel
geld ek in die geheel verloor het nie.

“Die skroot-besighede wat koperkabel van die diewe koop moet ook vasgevat word vir hul misdrywe. As daar nie ’n mark vir die kabels is nie, sal dit nie gesteel word nie.”

’n Woordvoerder vir Telkom het gesê dat sedert 20 September het agt insidente van kabeldiefstal in die Daljosafat-gebied alleen plaasgevind.

Tydens hierdie insidente is 1625 meter kabel gesteel.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za