Paarl-Oos lyk vroeg goed
2006-10-05
DIE eerste span van Paarl-Oos Krieketklub het die seisoen op ’n drafstap begin toe hy vir Maties met vier paaltjies geklop het.
Maties het die loot gewen en in bewolkte weersomstandighede gekies om New Orleans se blad eers met die kolf te beproef.
Die besoekers behaal 186/8 in hul toegelate 60 boulbeurte, met John Loxton (40 4x5), Warren Swan (37 4x3) en Warren Hayward (35 4x6) wat die voorste lopiemakers is.
Maties het fluks begin en die vroeë lopietempo van vier per beurt gou opgeskuif na ses per beurt voordat die eerste paaltjie in die 14de beurt met die telling op 50 gekantel het.
Dié paaltjie van Elroy Abrahams (1/42 in 15bb) het die Maties-kolwers in die bek geruk. Die lopietempo is hierna vinnig-vinnig vertraag, met die snelboulers se aflewerings wat toe goeie lyn en lengte gevind het.
Die inperkende aflewerings van die draaiboulers asook baie goeie veldwerk het ook tot die wurggreep op die kolwers bygedrae.
Waylain September (3/34 in 15bb, 1 leeg) en Craig Abrahams (2/30 in 14bb, 4 leeg) was die beste boulers.
Paarl-Oos se eerste paaltjie kantel reeds in die sesde beurt met die telling op 27.
Die tuisspan se kolwers het so bietjie voortgeploeter totdat ’n kapteinsbeurt deur Wilton van Neel (42nun 4x2, 6x3) hulle na ’n sege laat voortstoom het. Van Neel het in die 43ste beurt die wenlopies met ’n ses gemoker.
Tiaan Cloete (35 4x5), Shaun Cutting (35 4x2) en September (31 4x4) was die ander kolwers wat lopies gekry het.
L Hobson (3/74 in 15bb) en J Loxton (2/30 in 6bb) was Maties se beste boulers.
Op Stellenbosch het dinge tussen die tweede spanne van dié klubs op ’n ietwat kontroversiële gelykopuitslag uitgeloop.
Paarl-Oos II het 295 aangeteken, met die laaste paaltjie wat in die laaste boulbeurt kantel.
Die speler-skeidsregters het egter besluit om die Matie-boulbeurt vroegtydig te stop weens swak lig, ten spyte daarvan dat die Paarl-span sy draaiboulers opgesit het.
Maties eindig op 275/8.
Paarl-Oos se uitblinkers was Jarrod Cupido (80 4x9, 6x1), Ricky Pietersen (67 4x6, 6x1), Edgar Watts (63 4x9), Barton Gouws (3/31 in 10bb) en Justin Watts (3/63 in 11bb).
Maties se terugvegpoging is deur H van Rhyn (2/54 in 13bb), L Willemse (2/47 in 10bb), R Lubb (5/37 in 11bb), A Whitfield (86 4x3, 6x8), S Pienaar (34 4x3, 6x1) en H Tarentaal (30 4x4) gelei.
Saterdag speel Paarl-Oos I (tuis) en II (weg) teen Bergrivier Krieketklub.
More
News
|