Young Peoples maak Brakke vinnig-vinnig reg
2006-10-05
DIE eerste span van Young Peoples Krieketklub het Saterdag die sopbeen van ’n vroeë sege voor die neuse van ’n sterbelaaide Brakke-span weggeraap.
Die Paarliete het Brackenfell op sy tuisveld met vier paaltjies geklop. Peoples se nuwe kaptein, Brendon Adams, het die loot gewen en die tuisspan ingestuur om te kolf in swaar bewolkte omstandighede.
Brackenfell het goed begin en toe reën die spel vir sowat ’n uur onderbreek, staan die telling op 80/3.
Toe spel hervat, het die jong Peoples-span hul vorm gekry. Die veldwerk was skielik op standaard en die boulers het meer gedissiplineerd geboul, met Adams wat met 6/29 verwoesting saai.
Die tuisspan word uiteindelik vir 124 lopies uitgehaal, met slegs Wimpie Louw (45 4x5) en Clifford Prinsloo (29 4x3) die voorste lopiemakers.
Die besoekers het ewe goed begin, maar die lopies het nie maklik gekom nie, grotendeels danksy die goeie boulwerk van Willem du Toit (3/28).
Peoples steier op 34/3, maar ’n goeie 40-lopie vennootskap tussen Edwin Jacobs (22 4x3) en Dominique Daniels (20 4x3) help Peoples tot 87/3.
Drie vinnige paaltjies haal weer die wind uit die besoekers se seile op 90/6, maar Brendon Gabriels (30nun 4x5) help Peoples na ’n sege in die 43ste beurt.
“Die relatiewe jong span het baie uit dié wedstryd geleer en op die einde baie karakter getoon om dié wedstryd te wen,” het die Peoples-afrigter, Eltin Buziek gesê.
Saterdag reis Peoples I na Stellenbosch om Stellenbosch/Distrikte te pak.
Peoples se eerste tuiswedstryd is op 14 Oktober wannner hulle met Maties kragte meet.
Peoples II (Maties weg) en III (Oostelikes tuis) speel ook op 14 Oktober hul eerste wedstryd. Navrae rakende wedstrydbepalings kan aan Edgar Paulse (wedstrydsekretaris) 862-0928 gerig word.
More
News
|