Skool sluit weens waterskaarste
2006-10-05
’n WATERTEKORT by Windmeul Primêre Skool buite die Paarl het veroorsaak dat die skoolhoof, George Kroneberg, die skool op die eerste dag van die nuwe skoolkwartaal gesluit het vir ’n week.
Die skool het verlede kwartaal verskeie kere moes sluit nadat die boorgat opgedroog het.
“Ons kry nou ’n ekstra week vakansie, maar ons dink nie ons ouers gaan baie tevrede wees met hierdie omsendbrief vanaf die skool nie,” het Zin Zan Swartz, Carlo Thabo en Teswill Powpow, almal in graad sewe, gesê.
Die 15 opvoeders van die 500 leerlinge is by die skool en doen nou administratiewe beplanningswerk.
Die skool ervaar reeds sedert Woensdag 13 September watervoorsieningsprobleme omdat die boorgat opgedroog het.
“Ek het my ’n papie geskrik toe Abel Mentoor, algemene voorman van die skool, vir my kom sê dat die voorsiening van die water vir die skool onvoldoende is,” sê skoolhoof George Kroneberg.
“Ons het nog nie sulke probleme vantevore ervaar nie en ons het dadelik ondersoek ingestel.
“Twee van die drie opgaartenks was dolleeg en die ander opgaartenk het minder as 500 liter water oorgehad. Die voorsieningspyp vanaf die boorgat het net effentjies drupsgewys geloop,” sê hy.
Daar is aanvanklik gemeen dat die pomp dalk uitgebrand het en die kinders is huis toe gestuur vir drie dae.
’n Elektriese kontrakteur het egter bevind dat daar geen fout met die kragtoevoer was nie.
Kroneberg het die watertekortprobleme aan die kringinspekteur gerapporteer en dit onder die Onderwysdepartement se Noodherstelwerk-afdeling se aandag gebring. ’n Kontrakteur het die pomp verwyder vir herstelwerk.
Teen Maandag 18 September was die probleme nog nie opgelos nie en die skoolkinders het steeds sonder water gesit. Die skool is weer gesluit en ouers is in kennis gestel dat die skool sou heropen vir die nuwe kwartaal as die waterprobleme opgelos is.
Die kontrakteur se ondersoek het getoon dat die watervlak in die boorgat verlaag het en aanbeveel dat die pyp in die boorgat met 60 meter verleng word tot 160 meter. Aangesien ’n groter pomp dan benodig word, beloop die uitgawes sowat R38 000.
Om water na die skool uit die dorp aan te ry blyk ook ’n duur transaksie te wees en die skool kan dit nouliks uit eie sak bekostig, het Kroneberg gesê.
Intussen wag die Noodherstelwerk Afdeling van die Wes-Kaap Onderwysdepartement nou op twee verdere kwotasies soos voorgeskryf deur die departement (hoewel ander kontrakteurs tot dusver versuim het om op te daag).
Die skool is steeds sonder water, en die leerlinge sit tuis.
* Students of Windmeul Primary have been sent home because the water supply has dried up.
More
News
|