Krag onderbreek weens hitte
2005-03-09
INWONERS van Noorder-Paarl is verlede week, in ’n snikhete week met temperature wat gewissel het tussen 35 en 38 grade, getref deur herhaalde kragonderbrekings. Volgens ’n munisipale woordvoerder het oorlading in dié gebied voorgekom weens die gebruik van toestelle soos lugreëlaars en waaiers. Die lyn gaan binnekort opgegradeer word. Sondag het sagte reënbuie verligting gebring met koeler weer. Altesame 1,2mm reën is gemeet. ’n Veldbrand op Franschhoek het Saterdag in die droë gras langs die Robertsvalleipad ontstaan en ’n kragonderbreking veroorsaak. Die brand is gekeer net voordat dit Pieter Hugo se Paradise Cottages op Robertsvallei-plaas bereik het. Sondag se reën het nie die saamtrek van kerke in die amfiteater op Paarlberg gekeer nie. Sowat 2000 mense het opgetrek vir die byeenkoms met die tema “Prophetic Voice, building the perfect man”. Pastoor John Slabbert sê hulle moes wel die byeenkoms met ’n halfuur skuif na 18:30, maar verder het alles goed verloop. Hy het die leraars en gemeentes bedank wat wel opgedaag het. Busvervoer is voorsien van Wellington, Mbekweni en Paarl. ’n Man wat onderweg was na die diens, Graham Pheiffer, is ernstig beseer, nadat die bakkie waarin hy ’n passasier was, se remme gefaal het. Hy word tans in die Tygerberg hospitaal behandel. Nog ’n passasier, Avril Sauls is lig beseer, maar is alreeds uit die hospitaal ontslaan. Die ander passasiers, is nie beseer nie en is net bly dat almal van hulle leef. Alhoewel die reën lafenis gebring het, daal die Wemmershoekdam se vlak steeds. Die dam is nou slegs 38% vol, teenoor 53,6% verlede jaar hierdie tyd. * Last week’s heatwave caused power failures in Paarl North.
More
News
|