Groenheuwel soek nie plakkers
2006-10-05
TANS sit Groenheuwel met Fairyland wat deur die Raad as ’n tydelike nedersetting beoog was. Mense het in die tussentyd gekom en gegaan, maar die plakkerskamp is steeds daar.
Die onlangse gebeure in Groenheuwel het net weereens bewys hoe min bevryding ons regtig in die nuwe Suid-Afrika het.
Ek verwys na die manier hoe Drakenstein se Raad onder leiding van die portefeuljehouer van behuising, raadslid Arthob Petersen, Groenheuwel se gemeenskap en belastingbetalers mislei het by ’n vergadering te Dalweide skool.
Die gemeenskap was onder die indruk dat die Raad hulle belange op die hart dra.
Hulle was egter lelik ontnugter toe hulle by die vergadering by monde van raadslid Petersen moes verneem hoe “gevoelloos” hulle is en dat Groenheuwel se mense “nie die plakkers wil aanvaar nie.”
Daarom het die burgemeester en raadslid Petersen besluit om busse beskikbaar te stel om die mense van Drommedaris, wat nie inwoners of belastingbetalers van Groenheuwel is nie, na die vergadering te vervoer.
Hy het dit duidelik aan Groenheuwel se belastingbetalers gestel dat hulle geen seggenskap het in terme van besluite wat hulle raak nie en dat die hokke wel daar gaan kom.
Die gemeenskap van Groenheuwel is nie gekant teen behuising vir die mense van Drakenstein nie, maar wel teen hokke wat gesondheidsrisiko’s, geweld en die gebruik van dienste sal verhoog.
Vrae soos of al die mense van Drommedarisstraat op die behuisingswaglys is, was ook onbeantwoord. Die toekenning van die erwe gaan baie duidelik veroorsaak dat die waglys “queue gejump” gaan word.
Die stuk grond is net vir die mense van Drommedarisstraat toegewys, terwyl ons sit met ander plakkerskampe i, asook families wat vir jare in agterplase woon.
Hoekom het die Raad gewag totdat daar 2000 mense in Drommedarisstraat is, aangesien die probleem langs die spoorlyn al baie lank aankom?
Dit is onregverdig om Drommedaris se plakkers van formele behuising te voorsien, teenoor gesinne wat jare wag vir huise.
Esa Benjamin (WCC)
Die Munisipale Woordvoerder reageer: Tydens die vergadering het Raadslede geensins mense mislei nie, maar die aanloop verduidelik en tersaaklike feite gestel.
Dit is duidelik dat die briefskrywer nie kennis dra dat Wyk 16 die Drommedarisgebied en ’n beduidende deel van Groenheuwel insluit nie.
Alle aspekte wat ’n gedeelte van die wyk (Groenheuwel) raak, raak ook die Drommedarisgebied.
Drakenstein Munisipaliteit ondersteun nie “queue jumping” nie. Persone word aangemoedig om te sorg dat hulle op waglyste kom.
Wat betref informele nedersettings in ander gebiede is ’n proses reeds begin om basiese dienste te verskaf. Langtermyn oplossings vir hierdie gebiede is reeds in ’n beplanningstadium.
Daar is nooit gedurende die vergadering genoem dat die inwoners van Groenheuwel "gevoelloos" is en "nie die plakkers wil aanvaar nie".
Die vergadering is juis deur die Raad belę om die publieke deelnameproses wat gevolg is om die projek van stapel te stuur te verduidelik.
Daardeur sou duidelik kennis geneem kon word dat die Raad die seggenskap van die Groenheuwel inwoners respekteer.
Indien dit nie die geval was nie, sou die Raad nooit die belangrikheid ingesien het om die vergadering met die Groenheuwel en Drommedaris gemeenskappe te hou nie.
Die aanvanklike vermoede word bevestig dat die hervestiging van die Drommedaris gemeenskap deur sekere individue in ’n politieke speelbal omskep word.
Dit, terwyl honderde families nie die basiese gerief van ’n ordentlike woning het nie. Wat het geword van “ubuntu” (om vir mekaar om te gee)?
More
News
|