Laat toets beendighteid
2006-10-12
Wat is osteoporose?
Osteoporose - die stille epidemie - is die gevolg van verlies van beendigtheid en gevolglike verhoogde risiko vir frakture van veral die heupe, rugwerwels en polse. Almal se bene ondergaan beenverlies, maar nuwe been word gevorm om dié verlies te herstel. Daar is dus 'n fyn balans tussen beenverlies en beenvorming.
DIE somer is amper hier! Nou is jou kans om weer jou oefenskoene aan te trek en die pad te vat. Dit is nie net goed vir jou spiere nie, maar kan ook osteoporose voorkom.
Gewigdraende oefening soos draf, tennis of stap, vorm deel van ‘n gesonde leefwyse wat een van die beste maniere is om osteoporose te voorkom. ‘n Gesonde leefwyse stimuleer beenvorming en voorkom oormatige beenverlies.
“‘n Gesonde leefwyse behels ook ‘n gebalanseerde dieet ryk aan suiwelprodukte en kalsium, die gebruik van kalsium- en vitamine D-aanvullings, gereelde gewigdraende oefening, matige gebruik van alkohol en geen tabak nie,” sê dr Connie Snoek, ‘n lid van die Instituut vir Osteoporose.
Hoe vroeër beenverlies gediagnoseer word, hoe doeltreffender kan dit behandel word en osteoporose kan selfs voorkom word. Veral postmenopousale vroue, vroue ouer as vyftig jaar en mans ouer as sestig jaar is blootgestel aan osteoporose.
“Hoe ouer ‘n mens word, hoe minder nuwe beenweefsel word gevorm en hoe groter is die kans om osteoporose te kry.”
Buiten ouderdom, speel onder meer vroeë menopouse (jonger as 45 jaar), langtermyn-kortisoongebruik, die misbruik van alkohol of tabak, lae kalsiuminname en ‘n geskiedenis van vorige frakture ook ‘n rol in osteoporose.
Ondergewig (anoreksiese) mense en mense met ‘n familiegeskiedenis van osteoporose, asook langafstandatlete en balletdansers val ook in die hoë risiko-kategorieë.
Die Instituut vir Osteoporose beveel aan dat mense wat in een of meer van die bogenoemde risiko-kategorieë val, ‘n beendigtheidstoets ondergaan om te bepaal of hulle osteoporose het.
Na aanleiding van die resultate van die beendigtheidstoets, kan aanbevelings gedoen word oor die behandeling van osteoporose.
* Die Instituut vir Osteoporose bied op 20 en 27 Oktober gratis inligtingsessies by die Louis Leipoldt-hospitaal aan. Die siektetoestand, voorkoming en behandeling word dan volledig deur ‘n kundige spreker bespreek. Vir meer inligting, skakel 948-9682.
More
News
|