Borsondersoek en papsmeer kan jou lewe red
2006-10-12
IN Suid-Afrika is jou kanse een uit 31 om met servikale kanker gediagnoseer te word. Meer as 3400 vrouens sterf jaarliks aan servikale kanker.
“Dit terwyl hierdie kanker ’n hoogs voorkombare en geneesbare siekte is indien dit vroeg opgespoor word,” sê Mareé Lambrechts, Gesondheidsprogramkoördineerder van Kansa.
Leer hoe om ’n borsondersoek op die korrekte manier te doen en kry ’n gratis fisiese borsondersoek by enige van die volgende klinieke: 18 Oktober by Simondium kliniek, Yvonne Davids (885-1118) en 25 Oktober by Hexberg kliniek, Wellington, Liesa Scott (864-2868).
Skakel die kontakpersone om jou plek te bespreek.
Vanjaar neem ’n rekord getal tersiêre dameskoshuise op Wellington ook deel aan Kansa se borsondersoekklinieke.
Die studente ontvang elk ’n gratis borsondersoek en abnormaliteite word verwys. Voorligting word ook gedoen rondom die belangrikheid van papsmere om servikale kanker vroegtydig op te spoor.
Enigiemand wat graag betrokke wil raak by hierdie projek, kan Mareé Lambrechts by 876-3589 skakel.
Servikale kanker kom voor in die serviks, wat ook as die baarmoedermond bekend staan en is verbind aan die vagina.
Hierdie weefsel is baie sensitief en vatbaar vir infeksies.
Die hoofoorsaak van servikale kanker is die menslike papilloma virus MPV). Hierdie virus is seksueel oordraagbaar en ongeveer een uit elke tien vrouens wat met hierdie virus besmet is, ontwikkel servikale kanker.
Servikale kanker neem jare om te ontwikkel en gee geen waarskuwingstekens in ’n vroeë stadium nie.
Alhoewel jyself nie sal weet dat daar veranderings in die serviks plaasvind nie, sal ’n papsmeer hierdie veranderings baie effektief kan opspoor.
Die papsmeer is ’n goedkoop, pynlose toets waar selle van die serviks geneem en ondersoek word vir enige abnormaliteite.
In ’n laat stadium is die volgende tekens waarneembaar: bloeding tussen maandstondes, ongewoon swaar maandstondes, pyn tydens geslagsomgang, bloeding na geslagsomgang, bloeding na menopouse.
Raadpleeg ’n mediese kundige indien jy enige van hierdie simptome ervaar.
Behandeling van servikale kanker kos die staat R42 000, terwyl ’n papsmeer R150 kos.
Tans bied die staat elke vrou sonder simptome, drie gratis papsmere in haar leeftyd, tien jaarliks vanaf die ouderdom 30.
Vrouens met simptome val buite hierdie beleid en sal gehelp word, maak nie saak hoe lank terug hulle ’n smeer gehad het nie.
More
News
|