Lees haar plesier
2006-10-12
SOMMIGE mense tel skape as hulle nie kan slaap nie, ander bak koekies of drink ’n pil.
Die 85-jarige Kay van der Merwe van die Paarl het net een raat: lees en nogmaals lees, soms dwarsdeur die nag.
Afrikaans, Engels, literêre boeke, romans, speurverhale, gee maar en sy lees dit. Tot 20 boeke per week verslind sy.
“Ek sou nog meer lees, as ek net die boeke kon kry,” lag sy en beduie na die stapeltjie boeke langs haar gemakstoel.
Oral in die huis is rakke vol boeke: sommige wil sy weer lees, ander is goeie vriende wat sy vir altyd wil bewaar.
Maar dan is daar dié klomp, wat sy voel om aan ander mense beskikbaar te stel.
Dit is toe dat sy van die nuwe satelliet-biblioteek in Groenheuwel, Paarl-Oos, te hore gekom het.
“Ek kan my oë nie glo nie. Mevrou van der Merwe sal nooit besef watter groot geskenk sy vir ons gegee het nie,” het ’n opgewonde Arlene Krieling gesê van die 500 boeke wat hulle ontvang het.
Die satelliet-biblioteek het sy deure vroeër vanjaar geopen en het reeds meer as 1000 lede wat dit druk besoek.
More
News
|