Hele dorp sonder krag
2006-10-12
INWONERS van Meerlust Bosbou in Groot Drakenstein sit weer met hul hande in hul hare nadat die kragtoevoer na dié dorpie ’n week gelede afgesny is.
Die 32 houthuisies waaruit die dorpie bestaan, is reeds ’n geruime tyd lank erg verwaarloos en dit is nou vir die dorpenaars soos sout wat in hul wonde gevryf word dat hul krag afgesny is.
Errol Pietersen, wat ’n snoepwinkel by Meerlust Bosbou bedryf, sê dat hy al honderde rande verloor het aan vars kruideniersware soos roomys en suiwelprodukte wat bederf het weens die feit dat die krag afgesny is.
Ander inwoners vertel dat hulle hul hele maand se gevrieste vleis en groente moes weggooi weens die afskakeling van die krag.
Die probleme op Meerlust Bosbou spruit uit die bestuursverskuiwing van die bosboudorpie vanaf Cape Nature na die Departement van Openbare Werke.
Sedert die verskuiwing vier jaar gelede was daar probleme met die instandhouding.
Deon Rossouw van Cape Nature, wat baie betrokke was by Meerlust Bosbou voor en na die oorskakeling van bestuur, sê dat sy departement nou moedeloos is.
“Die inwoners verwag van ons om na hulle om te sien, maar ons kan dit nie meer bekostig nie. Die afgelope drie jaar het ons al meer as R300 000 spandeer aan die dorpie terwyl dit nie ons verantwoordelikheid is nie.”
Dié geld was geoormerk vir natuurbewaringsdoeleindes.
“Die Departement van Openbare Werke weier om hul verantwoordelikheid te aanvaar.”
Rossouw beweer ook dat Cape Nature koopkragbokse in die huise by Meerlust Bosbou geinstalleer het, maar dat daar aan 90% van die bokse getorring is om betaling te omseil.
“Sodoende versuim die gemeenskap om vir krag te betaal en ons weier om voort te gaan om dié las te dra.”
Toe Cape Nature nie meer die rekening aan Drakenstein Munisipaliteit betaal het nie, is die krag afgesny.
Planne om die woonbuurt te ontwikkel as behuisingsprojek, word vertraag weens teenstand van omringende grondeienaars.
Intussen weet die inwoners van Meerlust Bosbou nie na wie hulle moet draai nie.
* Electricity to the forestry village Meerlust has been cut off while government departments dither.
More
News
|