Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Liefdesdriehoek: Moord oor mooi meisie

Liefdesdriehoek: Moord oor mooi meisie
 
2006-10-12


’n JONG man het die naweek met ’n mes in die hart gesterf en twee tieners se lewens is onherroeplik verander, toe jaloesie oor ’n meisie oorgekook het.

Die rustige Mont Roselaan in die gegoede buurt Charleston Hill in die Paarl is Saterdagnag geruk deur die onderonsie en ’n enkele, noodlottige, messteek.

Azhar Knight van Ghwarrielaan, New Örleans, het gesterf voordat hy Sondag sy 22ste verjaardag sou vier.

Die 17-jarige moordverdagte is Maandag deur die hof in die sorg van sy ouers vrygelaat. Hy is vry om terug te keer na sy graad 11 klas in die Paarlse seunskool, maar hy is nog te getraumatiseer om klas te loop.

Die meisie waaroor die stryery gegaan het, Bronwyn Wiese wat onlangs 16 geword het, ly ook aan skok en word deur haar moeder ondersteun totdat sy ook soos haar vriend, berading kan ontvang.

“Ek het voorheen met Azhar uitgegaan, maar ons het lank nie meer iets aan nie,” het ’n duidelik ontstelde Bronwyn, hierdie week gesê.
Haar ma, Shalwanda, beaam dit.

“Ek het nie die verhouding goedgekeur nie. Azhar was te oud vir Bronwyn. Hy het ook ’n vriendin met ’n kind,” het sy, met haar arm beskermend om haar dogter, in die gesinswoning in Lantanastraat gesê.

Saterdagaand het Bronwyn gekuier by haar 17-jarige vriend, met wie sy lank uitgegaan het voordat hulle vanjaar ’n tyd lank nie saam was nie.

Die liefde het die afgelope weke weer sterk geblom tussen die twee tieners.

“Azhar het gereeld na Bronwyn se selfoon gebel as sy by haar vriend was,” het Shalwanda gesê.

“Soos die aand van sy dood ook weer. Dit was ’n aanhoudende uittartery.”

Laat Saterdagaand het Azhar en vriende by die tiener se woning in Charleston Hill opgedaag.

Die seun is na buite, het Bronwyn vertel. Hy wou nie hê sy moes uitgaan nie.

Sy het gehoor daar was ’n gestoei en toe hy weer in die huis kom, was daar ’n skeur aan sy oor en bloed aan sy gesig.

Die motor waarmee Azhar daar aangekom het, het weggetrek.

Bronwyn is kort daarna huis toe, waar sy om 22:30 gehoor het dat Azhar aan ’n messteek in die hart dood is. Hy het reeds op pad na die hospitaal sy bewussyn verloor en gesterf.

Azhar het as meganikus by 'n koeldrankfabriek gewerk. Sy pa is algemene verkoopsbestuurder by dieselfde firma.

'n Hartseer vriend, Ivor Petersen, het Azhar hierdie week beskryf as "'n liefdevolle, vriendelike mens, my beste vriend".

Azhar is Sondag volgens die Moslemgeloof ter ruste gelê in die Parys begraafplaas. Hy laat sy ouers, Walid en Gahdijah, sowel as sy broer Anish en suster Iptisaam agter.

Intussen probeer die gesin van die verdagte die moord op hul voorstoep verwerk.

“Die seun is verpletter,” het sy tannie gesê. “Hy is ’n saggeaarde kind. Ons kan glad nie begryp wat hier gebeur het nie.”

Bronwyn se ma is ewe ontsteld.

“Daar is nou soveel vrae wat gevra word en soveel stories wat vertel word. Ons moet almal kalm bly en die polisie kans gee om die saak te ondersoek,” het Shalwanda gesê.

* A boy (17) has been arrested for the murder of a young man in a love triangle.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za