Skade na slaggat
2006-10-12
’n SLAGGAT in die Paarl was moontlik Dinsdag die oorsaak van ’n motorbotsing waarin ’n sakeman ernstige gesigbeserings opgedoen het.
Jacques Conradie (33), eienaar van Fruit en Veg City, het om 05:15 sy woning in Jan Smutslaan verlaat om na ’n gimnasium te gaan.
Skaars 200m van sy huis, in Tekstielstraat, het hy beheer oor sy vrou se nuwe blou Kia Picanto verloor nadat die linkervoorwiel vermoedelik ’n slaggat getref het.
Die motor het buite beheer oor Tekstielstraat geswenk 20m verder oor die sypaadjie van Woollenstraat gespring voordat dit teen die muur van ’n industriële gebou gebots het.
Conradie het sy kop hard teen die instrumentpaneel gestamp, met gevolglike ernstige beserings aan sy neus en mond. Hy is na die Paarl Medi-Clinic gehaas.
Die wrak, met skade aan die voorkant en linkervoorwiel, ’n geskeurde band, ’n ontplooide lugsak teen die stuurwiel en bloedbesmeerde voorste sitplek, is na ’n paneelklopper gesleep.
“Ons sal nie die saak hier laat nie,” het sy buurman, Delmaine Coetzee, Dinsdag gesê.
“Daar moet nou iets aan die slaggate gedoen word. As Jacques vinnig gery het, het ons beslis nie vandag langs sy hospitaalbed gestaan nie, maar dan het ons sy begrafnis gereël.”
Coetzee is geopereer en aan 'n respirator gekoppel. Sy toestand is bevredigend.
Die slaggat is gister deur munisipale werkers opgevul.
* A Paarl businessman has been seriously injured after his car allegedly hit a pothole in town.
More
News
|