Skool kry weer water
2006-10-12
DIE Windmeul Primêre Skool in Noord-Agter Paarl het Maandag weer heropen, nadat hulle waterprobleme vir eers opgelos is.
Die skool was die afgelope maand aan en af gesluit nadat die boorgat feitlik opgedroog het.
As tussentydse maatreël het die nabygeleë kerk, VGK Windmeul, 30 000 liter water aan die skool geskenk om hulle deur te dra totdat werksaamhede vir die verlenging van die ondergrondse waterpyp vandeesweek afgehandel is. ’n Sterker waterpomp is ook aangekoop.
Skoolhoof George Kroneberg het die skool verlede week Maandag met die heropening van die nuwe skoolkwartaal gesluit, omdat die skool reeds sedert middel September met die voorsiening van vars water sukkel.
Ouers en van die boere in die omgewing het hulle heftige ontevredenheid oor die toedrag van sake by die skool by die plaaslike OBOS-kantore te kenne gegee.
Volgens ondersoek het die ondergrondse watertafel gedaal en was die watervoorsieningspyp te kort om genoegsame watervoorraad vir die skool te voorsien.
Onkoste om die skool se waterprobleme op te los beloop bykans R38 000.
Volgens ’n faks wat Kroneberg verlede week ontvang het, het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement reeds op Woensdag 20 September goedkeuring verleen dat kontrakteurs met die werk moes voortgaan. Die faks is egter eers op 3 Oktober gestuur.
Kroneberg het gesê dat die werk aan die pomp en boorgat Dinsdag afgehandel is. Die skool se watertekortprobleme is nou hopelik iets van die verlede.
* The water supply to Windmeul Primary has been restored after many delays.
More
News
|