Peoples klop Albions vir Super 4-kroon
2006-10-12
DIE Tiere van Young Peoples Rugbyklub het Vrydagaand die Drakenstein Super 4-beker omhoog gelig nadat hulle met goeie rugby vir Albions 30-20 (12-6) geklop het.
Albions het goed begin en Peoples in sy kwartgebied vasgepen. Die Tiere het egter met goeie verdediging sy teenstanders van die doellyn weggehou.
Ná sowat 20 minute het dit gelyk of Albions begin stoom verloor en Peoples het met slim spel beheer oorgeneem.
Die Tiere se agterlyn het met ’n paar skitterende bewegings die Albions-verdedigers deurmekaar gehardloop, en die vleuel, Jody Davids, en heelagter Manie Adams het agter die doellyn gaan kuier. Delwaine Cornelissen het ’n doelskop bygevoeg.
Albions se punte vir die eerste helfte was danksy ’n strafdoel deur die losskakel, Dominic Daniels, en Ashley Raubenheimer wat ’n blitsige skepskop deur die pale gejaag het.
In die tweede helfte was dit by tye eenrigting-verkeer en het Albions veral voorlangs bitter swaar geleef.
Peoples het as span puik saamgespeel en danksy nog twee drieë deur Davids en die agsteman, Francois Manuel, Albions se kanse op ’n sege laat kwyn.
Cornelissen het nog een drie verdoel terwyl die plaasvervanger-losskakel, Everett Jacobs, ’n strafdoel behaal het.
Albions het verbete teruggeveg en op ’n stadium is daar twee strafdrieë aan hulle toegeken nadat Peoples herhaaldelik op sy doellyn in die vaste-los oortree het.
In die plaateindstryd het Paarl Rangers met ’n vyfster-vertoning vir Young Gardens 12-0 (7-0) verslaan.
Rangers het twee drieë, deur Baby van Reenen en Jamiel la Douche, gedruk, terwyl losskakel Eugene Collins een doelskop behaal het.
Peoples se kookwater-heelagter, Manie Adams, is welverdiend as speler van die toernooi aangewys.
More
News
|