Bloeityd vir Boland Rugby
2006-10-12
DIE manne stap vandeesweek omtrent breëbors in die gange van die Boland Rugby Unie.
Nie alleen is die Boland Kavaliers Vrydagaand as kampioene van die Curriebeker se Eerste Liga gekroon nie, maar die Boland o.19 en o.21 spanne het hul seisoen onoorwonne afgesluit en so ook die B-afdelings van hul onderskeie kompetisies gewen.
Die Kavaliers het die Luiperds op Potchefstroom 37-13 kafgedraf terwyl die o.21 en o.19 seges van 51-16 (oor die Valke) en 48-12 (oor Griekwas) behaal het.
Die o.21-span veral het vanjaar ’n uitstekende seisoen beleef en het in die wedstryde teen die OP, Grens, SWD, Pumas, Griffons asook die eindstryd teen die Valke, tellings van 50 punte plus aangeteken.
Dit is dus geen wonder dat hulle kan spog met 327 punte (59 drieë in totaal) wat hulle aangeteken het nie, teenoor die 81 teen hulle.
Om sake nog meer spoggerig te maak, is dit vier Bolanders - Godwann Damon (9), Ridowaan de Bruyn (8), Monray Liebenberg (8) en Chase Minnaar (6) wat die voorste vier driedrukkers van beide die A- en B-afdelings is.
“Die ou resep van dissipline en toewyding deur beide die spelers en die afrigtingspan is wat vanjaar vir ons soveel sukses gegee het,” sê die o.21-afrigter, Lance Sendin.
Volgens Sendin is die sukses van die junior spanne ’n duidelike bewys van die hope rugbytalent waaroor die Boland beskik.
“Van dié o.19 en o.21 spelers is reeds geïdentifiseer om deel te wees van die beplande Fidentia Rugby-akademie,” het Sendin bygevoeg.
Sendin is bygestaan deur Ian Cloete (hulpafrigter), Anthony Hess (spanbestuurder), dr Carlo Prins (spandokter) en Andy Robyn (fisioterapeut).
“Ons beskik oor besonderse talent in dié spanne wat kort voor lank beslis vir die Kavaliers kan uitdraf,” het Sendin gesê.
Die invloed van Fidentia se borgskap in die planne vir Boland Rugby is enorm.
Nie alleen het Fidentia reeds talle verbeterings aan die stadion aangebring nie, maar verskeie hoog aangeskrewe spelers is ook reeds deur die Unie aangekoop met nog heelwat ander spelers wat ook op pad is Boland toe.
Fidentia is vasbeslote om die Boland in 2008 die Curriebeker-wenners te maak en die toewyding en grootskaalse finansiële inspuiting kan net wondere verrig vir die rugby in die Boland.
More
News
|