Engels über alles (Editorial)
2005-03-09
MET meer as 80 persent van die bevolking van die Paarlvallei Afrikaanssprekend, is dit maar moeilik om te sluk aan die nasionale regering se oorkoepelende beleid van Engels as voertaal.
Maar dalk moet die nasionale beleidmakers verskoon word. Hulle is seker nie behoorlik ingelig oor wie in die Boland woon en werk nie. Die besluitneming in die Drakenstein Munisipale Raad is egter minder verstaanbaar. Hierdie lede het dokumentasie ter insae oor die tale van die mense wat vir hulle in die raadsaalstoele ingestem het.
Die Raad se taalbeleid is duidelik. Alle amptelike sake sal in Afrikaans, Engels en Xhosa wees. Maar fondse en die tydsfaktor het ’n stokkie voor dié goeie bedoelings gesteek, en Engels is as goue middeweg gekies.
En nou het die Britse Taal sy gebied vergroot tot in die dossiere en die gange van die polisiestasies van ons Vallei.
Toegegee, daar het baie misverstande voorgekom met dié dat nuwe Xhosa-sprekende radio-operateurs en beamptes in aanklagkantore nie mooi die Afrikaans verstaan nie.
Maar hoe gaan die dienslewering verbeter as die middeweg gevolg word?
Dan verstaan die Xhosa sersant net die helfte van die boodskap, die Afrikaanse konstabel net die ander helfte, en die enkele Engelsman in die eenheid is op studieverlof, so hy kan nie interpreteer nie. Maar darem seker nie té lank nie.
More
News
|