Woonstelle in Newtown beoog
2006-10-12
PLANNE is goed op dreef vir ’n nuwe woonstelontwikkeling met 36 wooneenhede in Newton.
Die eienaar van die perseel op die hoek van Hoop en Adamsstraat, is prokureur Ivan de Villiers, met Gaironeesah Green en Riedwaan Green van Talk to Talk CC, as mede-ontwikkelaar. Volgens die projekbestuurder, Sedick Green, kan daar hopelik vroeg 2007 met die drieverdieping-ontwikkeling begin word.
“Twintig persent van die inkomste uit die ontwikkeling van die grond gaan aan die Al-Azhar Moslemskool as die Green Education Trust,” het Green gesê.
“Die skool brei volgende jaar uit van graad nege tot graad tien. Ons is so trots daarop dat alle sektore van die gemeenskap hier saamgekom het om ’n skool te help.”
Indien die hersonering van die terrein vir hoë digtheid (groepbehuising) goedgekeur word, sal die Newton Village sekuriteitsontwikkeling bestaan uit ses geboue om ’n sentrale parkeergebied.
Elke gebou van drie verdiepings huisves ses tot nege woonstelle met twee slaapkamers en een badkamer elk. Pryse vir die woonstelle van sowat 54 vierkante meter sal begin by sowat R485 000.
Die argitek is Eustace Adonis van The Architecture Company. Vir navrae, skakel Ivan de Villiers (873-1171) of Sedick Green (082-448-8659).
More
News
|