Baba sterf in rose
2006-10-19
DIE baba het aan haar jong lewetjie geklou toe sy in ’n toilet gespoel is. Maar sy kon nie die petrol wat oor haar aan die brand gesteek is, oorleef nie.
Haar tienerma, Broné Minnaar van Versaillestraat, Wellington, is steeds in ’n dwaal. Sy en haar dogtertjie se pa het reeds twee name vir hul ongebore kindjie gehad.
Broné (18) onthou vandag dat haar pa, Steven Fortuin, haar Maandag verlede week na die huistoilet gelei het vir die geboorte, maar sy moes by familielede hoor dat haar pa later die baba se lykie in die roostuin gelaat het.
’n Aanklag van moord word deur die polisie ondersoek.
Broné, ’n fyngeboude graad 11 leerling aan Bergrivier Sekondêr, was in Junie laas op skool.
Haar ma, Rialda Minnaar, sê sy was uit die veld geslaan toe Broné haar die Maandagoggend om 04:00 wakker gemaak het.
“Sy het van rug- en maagpyn gekla. Ek het nie eens besef my kind is swanger nie,” het sy gesê.
Rialda het Broné se pa, ’n weermagoffisier in Goodwood, gebel.
“My pa het hier aangekom met ’n vrou wat hy gesê het ’n profeet is,” het Broné later vertel.
“Hulle het my badkamer toe geneem en gesê ek is dragtig met ’n tokkelos en hulle moet van die wurms ontslae raak. Toe gee hulle vir my olyfolie in en iets wat my bedwelmd laat voel het.
“Die hele tyd het hulle so in vreemde tale gepraat. Ek het skielik gevoel hier kom die baba, en toe het ek flou geword.”
In die sitkamer van die woning is Broné se ma deur Godfrey Davids, haar peetpa, en familielede ondersteun.
“Ons het net een skree gehoor,” het Rialda gesê. “Dit was voor ligdag, voor agtuur, want dis wanneer ek moet gaan werk.”
“Toe ek wou gaan kyk, het Broné nog gesê Ma, moenie kyk nie.
“Haar pa en die profeet het ’n sangoma gebel wat vir hulle gesê het om sout en olyfolie in hul hande te vryf, petrol op die tokkelos te gooi en dit aan die brand te steek.
“Toe vat haar pa die kind buitentoe.”
Met die na-doodse ondersoek is bevind dat brandstof oor die baba gegooi en aan die brand gesteek is.Die lykie is in ’n vlak graf in die roostuin begrawe.
Danley van Wyk (22), die pa van Broné se baba, was die nag onbewus van die treurspel in sy ouerhuis, ook in Versaillesstraat.
Hy het geweet sy dogtertjie is vermoor toe Broné eers kliniek toe geneem en later na die Paarl Hospitaal gehaas is weens ernstige bloedverlies.
“Broné het al goedjies gekoop vir die baba. Ons het al twee name gehad ook. Dit sou Intelligence of Brock wees.”
Die Minnaar en Van Wyk families is nou gewikkel in ’n stryd oor hoe en waar die baba ter ruste gelê sal word.
* A case of murder is being investigated after a new-born baby was taken from her teenage mother, set alight and buried in a rose garden in Wellington.
More
News
|